Moenie net jou hart weggee nie
deur Stephan Joubert Marsialus, ’n bekende skrywer uit die eerste eeu vertel van iemand wat hy ken genaamd Diaulus wat pas van beroep verander het. Hy is nou ’n dokter. Vroeër was hy ’n begrafnisondernemer, maar volgens Marsialus doen hy steeds dieselfde! Helaas verander mense nie maklik van gewoontes of gedrag nie, al doen hulle selfs nuwe dinge. Daarom dat dit so belangrik is om ons koppe oop te hou. Ons moet Paulus se woorde ernstig opneem in Romeine 12:2, naamlik dat ons moet toelaat dat God ons denke vernuwe. Ons kort vars koppe wat aanhoudend deur die Here aangeraak word as ons vars lewens wil leef. By God kry ons nuwe gedagtes en nuwe denke, mits ons meer as net ons harte vir Hom gee. Te veel gelowiges gee slegs hulle harte Hom, maar hou hulle koppe vir hulleself. Hulle denke bly steeds onder privaatbestuur. Dit is ’n fout. Nuwe koppe word dringend gevra, anders gaan ons lewenslank doen wat ons tans doen. Terloops, mens noem dit stagnasie! Romeine 12:2 roep ons op tot aanhoudende, oor en oor weggee van ons denke aan God. Dan eers sal ons God se goeie en volmaakte wil ken. Dan sal ons leer om God-verheerlikende gedagtes te dink.