Die hemel is nie ’n groot familie reünie nie
deur Stephan Joubert Hierdie afgelope week het ons Jesus se hemelvaart gevier. Hy is weer terug in sy Vader se ewige huis met die belofte dat die Heilige Gees by ons sal wees tot aan die einde. Van die hemel gepraat: dit lyk nie soos Suid Afrika sonder misdaad en korrupsie nie. Dis nie ’n lewenslange braai saam met al die geliefdes wat jy na baie jare weer raakloop in lewende lywe daar aan die anderkant nie. Die hemel gaan nie in die eerste plek oor al die bemindes wat daar is nie. Alles hier en daar gaan oor Jesus. Hy is die lewe. So sê Hyself in Johannes 14:6. Jesus smous nie maar net ’n produk genaamd ewige lewe aan diegene wat bang is vir die groot vuur aan die ander kant van die draad nie. Jesus is nou reeds LEWE in volheid. Wie Hom ken en in Hom glo het nou al die ewige lewe. Jesus probeer nie om ons so vinnig as moontlik uit hierdie wêreld weg te kry nie. Geloof is nie ’n ontsnappingsroete nie. Daarom dat Jesus in Johannes 17 sy Vader vra om ons nie uit die wêreld weg te vat nie, maar om ons van die Bose te bewaar. Om in Jesus te glo, is om nou reeds veilig te wees. Dis om te weet ons het deel aan sy lewe wat so oorweldigend is dat dit tot ’n ewigheid anderkant die dood sal aanhou. Vir altyd gaan ons in sy teenwoordigheid wees. Daarom, of ons leef en of ek sterf, ons doen dit vir Christus. Hy is ons Heer. Hy is genoeg. En as Hy nie is nie, sal selfs die hemel ’n groot teleurstelling wees. Genadiglik glo miljoene ander mense ook in Christus. Hulle sal deel uitmaak van die feestelike skare wat Hom tot in ewigheid sal volg en dien. Maar om hemel toe te wil gaan net om hulle te sien, of om aan die hemel as ’n groot reünie met ons familie en vriende te dink, is om die punt te mis. Ons almal is onderweg na God se stad. Ons gaan Hom sien! Hy gaan al die trane van ons oë afdroog. Ons gaan vir altyd sy Naam loof saam met sy ewige nuwe volk. Hier en daar maak Hy die heel meeste saak. Anders glo ons nie reg in Hom nie.