Van vlak tot die regte soort diep
deur Stephan Joubert Die meeste gespat en gespartel gebeur gewoonlik aan die vlak kant van enige swembad. Dieselfde geld vir ons lewens. ’n Groot deel hiervan speel af aan die vlak kant. Normale roetines — vanaf tandeborsel en motorbestuur tot toustaan en tuinmaak — is dikwels vlak-kant sake. So ook die meeste verskille tussen mense tot by doodgewone gesprekke in ’n winkel of kantoor. Sommige mense maak vlak kant-dinge te gou af as onbelangrik. Hulle is veels te besig om diep te probeer wees. Ook in die kerk soek baie na “diepte,” maar vergeet om God in die alledaagse op te soek of daar raak te sien. Hulle geestelike bandwydte is later net op “diep” ingestel. Sulke soektogte na diepte kan selfs later verval in selfsugtige soektogte na geestelike groei. Dan verskuif die klem weg vanaf impak vir die Here. Ligloop vir sulke diepte! In ons normale daaglikse roetines en in “onbelangrike” dagtake is daar baie geleenthede om die Here te dien en om Hom op vars maniere raak te sien! Die uitdaging voor ons elkeen is om die alledaagse weer terug te wen vir God. Daarna sorg die regte soort diepte vir hom/haarself. Juis as ons leer om God in alledaagse dinge raak te sien en raak te leef, doen ons die lewe soveel beter tot sy eer.