top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Onthou jy nog waar jy was op daardie dag?

deur Stephan Joubert As jy ’n rubyliefhebber is, dan sal jy daardie skepskop van Joel Stransky lewenslank onthou wat die wêreldbeker vir die Springbokke in 1995 beklink het. Of die foto van Nelson Mandela en Francois Pienaar wat jubelend feesvier op Ellispark. Elkeen wat daardie dag op die ou Ellispark was sal dit dadelik vir jou sê as daar rugby gepraat word. Ek onthou in my kinderdae hoe ons na die maan gekyk het toe Neil Armstrong op 21 Julie 1969 die eerste persoon geword het wat sy voetspore daar neergesit het. Die opwinding was voelbaar. Ook toe 9/11 gebeur het, of toe die Berlynse muur op 9 November 1989 geval het, of toe Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 vrygelaat is. Ek onthou elke slag presies waar ek was toe hierdie dinge gebeur het. Hulle sê mens onthou waar jy is, of wat in jou lewe aan’t gebeur is wanneer bekende mense in die samelewing iets oorkom, of wanneer lewensveranderende dinge in die wêreld gebeur. Toe dink ek dat min mense my nog ooit vertel het van sulke ervarings rondom hulle geloof... behalwe vir ’n klein groepie navolgers van Jesus wat die wêreld andersom laat draai. Hulle weet presies waar hulle was toe Jesus tromp–op in hulle vasgeloop het! Niemand onthou waar hulle was toe nog kop–kennis uitgedeel is nie Ons voel die lewe, eerder as dat ons dit verstaan. Ons leef eerste uit ons harte as uit ons koppe. Vir te lank was ekself die ere–voorsitter van die kop–eerste brigade. Ek het geleer geloof gaan oor kennis... O ja, soms ook oor vertroue. Maar kennis was altyd die tongtippie toets in my omgewing, nie vertroue nie. Niemand het my ooit uitgevra oor my vertroue nie, slegs oor my kennis. Daarom dat ek toe–oë gedink het die regte kennis in groot dosisse sou ander oortuig van die waarheid. Dit sou hulle beweeg om te glo en om meer toegewyd te leef. Helaas het dit nie. Tans is die meeste kennis ooit in die kerk beskikbaar. Daar’s eindelose boeke en massas navorsing oor enigiets vanaf kerklike belydenisse, leerstukke, geloofsvrae tot geestelike vorming. Nogtans laat nog meer van die regte soort kennis nie die kerk ewe vinnig uitbrei nie. Dit maak nie saak hoeveel preke, Bybelstudies of teologiese kursusse ons in plek kry nie — nog kennis “bereik” nie mense op beduidende maniere nie. Ook maak dit nie die nuwe generasies rasend opgewonde om deel te word, of deel te bly van die kerk nie. Skaars het baie van hulle hul kennis–inname fase in die kerk, genaamd katkisasie, voltooi, of hulle laat spaander! Hulle is meer opgewonde oor die nuwe “apps” of applikasies wat hulle kan aflaai op hulle selfone. Niemand onthou waar hulle was op daardie dag toe nog informasie in die kerk uitgedeel is nie. Maar gelowiges onthou wel wanneer hulle in die teenwoordigheid van mense is of was wat hulle geloof uitleef. In Walter Isaacson se biografie oor Steve Jobs, die baas van Apple tot kort voor sy dood, sê laasgenoemde juis: “The juice goes out of Christianity when it becomes too based on faith rather than on living like Jesus or seeing the world as Jesus saw it.” Geloof word eerste geproe en gedrink. Daar is geen sap oor in enige vorm van geloof wat hierdie hart–konneksie verloor het nie. Daarom is Paulus se woorde in Filippense 1 my daaglikse aarvoeding. Hy skryf daar: “Vir my is om te lewe Christus!” Ek wil dit elke dag agterna voel en leef.

bottom of page