God hou baie meer van my as ek van Hom
deur Stephan Joubert God hou van die wêreld. God hou van mense. Hy hou van ons. Hy hou van my. God wil hê ons moet Hom terug liefhê en dien. Dit is sy plan vir die wêreld. So was dit nog altyd. Ongelukkig hou ons minder van God as Hy van ons. Ons hou eintlik so min van Hom dat ons afgode maak, handgemaakte gode wat meer in pas is met ons eie behoeftes en begeertes. Gode moet ons dien. Hulle moet ons gebede verhoor, ons krisisse oplos, ons lewens lekker maak. Die ware God is nie so nie. Hy is nie in ons diens nie. Hy werk nie vir ons nie. Nogtans het God ons lief. Hy is lief genoeg vir ons wat soveel kere van Hom af wegvlug dat Hy ’n spesiale Herder aangestel het om ons te gaan opsoek as ons wegraak. Jesus sal God se duurgekoopte eiendom nooit vir altyd laat verdwaal nie. Hy sal ons soek totdat Hy ons kry. Dan verbind Jesus ons wonde en dra ons terug na die Here se huis toe, daar waar Hy ’n fees ete vir ons in plek het. Al hou ons minder van God as Hy van ons, maak sy liefde dat Hy nooit opgee op ons nie. God is skatryk in jammerhartigheid. Hy vergewe en vergeet. Met oop arms ontvang Hy ons elke keer by sy fees. God se liefde maak dat daar geen einde aan sy genade is nie. Vir altyd wil Hy ons naby Hom hê. Hy gaan ook hierin slaag, want saam met die Goeie Herder is die Gees van God ook in ons aan die werk om ons veilig by die ewige feesmaal in die hemel te besorg. Daarom wil ek God as my Hemelse Vader beter leer ken. Ek wil Hom terug liefhê.