Bangwees is internasionaal; Goddelike hoop ook
deur Stephan Joubert “Hy vat dit goed.” “Hulle is sterk.” “Sy is dapper.” Sulke taal hoor jy dikwels wanneer mense tee drink in die kerksaal na ’n begrafnisdiens. Ons wil hê mense wat deur krisisse gaan moet sterk wees. Hulle moet oor dit kom. Ek onthou juis hoe ’n leraar jare gelede vir my vertel het dat ’n ouderling vir hom kom sê het hy moet oor sy pa se dood kom want die gemeente hou nie daarvan dat hy so lank treur nie. Dit was blykbaar nie ’n goeie voorbeeld vir hulle nie. Miskien steek daardie idee van “cowboys don’t cry” nog iewers in ons koppe vas. Ons groei maar so op dat ons moet sterk wees, al is ons nie. Ons is bang en onseker. Daarom dat God omtrent elke keer as Hy Homself aan mense bekendstel ook byvoeg: “Moenie bang wees nie!” Dit is nie net Suid-Afrikaners wat bang is nie. Hier in Nederland waar ons vir twee maande woon en werk was ek verstom toe ons verlede Sondag in ’n plaaslike kerk ’n Hollandse lied sing wat vertel hoe bang mense vir die toekoms is. Selfs in die Eerste Wêreld waar mense soveel uiterlike sekuriteite het, is hulle onseker. In ’n land soos Nederland, wat in onlangse studies uitgewys is as die vierde gelukkigste land op aarde om in te bly, sing gelowiges ook oor hulle vrees vir die dag van môre. Hulle bely egter dat die Drie-Enige God alleen hulle enigste Bron van sekerheid en hoop is. Om bang en onseker te wees, is deel van menswees. Moet my nie verkeerd verstaan nie, vrees is nie ’n deug nie. Ons swakhede ook nie. Ons mag dit nie misbruik om simpatie en hulp van ander te probeer kry nie. Nogtans is dit ’n feit dat ons almal breekbaar en broos is. Ons is soms oor raad verleë. Partykeer word ons op die grond neergegooi. Selfs Paulus weet en ervaar dit (2 Korintiërs 4:16-18). Maar die goeie nuus is dat ons nooit deur God verlaat word nie. Hoor hierdie Woord van die Here en bou jou troos eksklusief op Hom.