Kom ons kies langtermyn
deur Milanie Vosloo
Hy het gevra: “Here, as U dan van my hou, gaan dan tog asseblief saam met ons. Ons is regtig ’n hardkoppige volk.” — Eksodus34:9a
Om rég te kies, is nie altyd maklik nie. Om God se wil te doen, ook nie. Ons staan mos nie spontaan in die oggend op met die brandende begeerte om in alles wat ons dink, sê en doen sy wil te doen nie. Veel eerder is ons daarop ingestel om gelukkig en tevrede te wees. Nouja, dis nou nie dat geluk en God se wil noodwendig teenoor mekaar staan nie. Daar is mos wonderlike geluk te vind in sy teenwoordigheid en binne sy wil. Tog is dit ook so dat daar baie keuses is waar dit net eenvoudig makliker is om ons eie geluk bó sy wil te kies.
Dis mos lekkerder om nog ’n bietjie later te lê as om vroeg op te staan vir stiltetyd; dit maak ons meer gelukkig om vir onsself iets te koop as om ’n groter deel van ons inkomste vir ander te gee; dis meer gerieflik om TV te sit en kyk as om na iemand toe te gaan wat dalk jou oor en liefde nodig het ... En so kies ons heeltyd kortstondige “geluk” bo langtermyn vrede en ewige beleggings.
Kom ons bid en probeer weer om vandag rég te kies. Om ”ja” te sê vir die dinge wat langtermyn vrede en vervulling gaan inhou. Ja, kom ons kies langtermyn.
Vader, help my om die resultaat van my besluite altyd voor oë te hou.