top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Skinder en ander gif

deur Stephan Joubert

Skinder is dodelik. Dis stadige gif. Skinder is die verbale bewys dat jyself wêreldberoemd geraak het in jou gevaarlike klein wêreldjie en dat jy almal rondom jou probeer stukkend praat wat jou plêstiek-troontjie bedreig. Skinder versprei soms vinniger as die waarheid. Tog, soos wat Will Rogers sê: “Rumour travels faster, but it don’t stay put as long as truth.”

Van skinder gepraat: maak nie saak wat jy doen nie, iemand het altyd geweet jy sal dit of dat doen. As jy dus iets doen wat modder op jou eie gesig laat beland, dan geniet die skindermonde dit heimlik. “Jy het mos daarvoor gesoek,” vertel hulle graag oor ’n koppie tee vir mekaar. “Dis jou verdiende loon.” “Jy het te groot vir jou skoene geword.” Dan hoor ek skielik hoe Jesus uitroep dat die oordeel ons nie toekom nie. Nie eens skurke en skelms verdien ons voltydse aandag nie, hoor ek ook vir Dawid uitroep in Psalm 37. Ons skuld mense vertroue. En respek. Ons skuld hulle tweede en derde en vierde kanse. As ek dit nie mishet nie, dan doen God dit juis oor en oor met ons. So leer Jesus ons in Matteus 18. Kom ons hou ons monde oor ander en leen slegs ons ore uit vir God en vir goeie nuus oor ander.

bottom of page