Jou taal wys jou hart
deur Stephan Joubert
Die gemiddelde persoon op straat (en op die internet) se taal is deurtrek met negatiewe terminologie. Onlangs lees ek juis van ’n navorser wat gaan kyk het na 558 prominente terme vir emosies in Engels. Hy bevind dat 62% van hierdie terme negatief is, met slegs 38% positief. Ons praat negatief omdat ons negatief dink. Nog ’n studie wat ek raakgeloop het bevind dat mense langer tyd spandeer aan negatiewe dinge as aan positiewe gebeure. Toe ’n groep mense fotos van sowel goeie as slegte gebeure gewys is, het hulle veel meer tyd spandeer aan die negatiewes. Ekself merk gereeld op dat wanneer mense koerantartikels op die internet lees dat die negatiewe artikels die meeste afgelaai word. Slegte nuus en slegte stories is meer klewerig as goeie verhale.
Hoe roei ons negatwisme uit? Wel, ons vat Paulus se woorde in Filippense 4:8 ernstig op en ons doen dit. Hy skryf hier dat ons alles wat waar, eerbaar, reg, suiwer, mooi en lofwaardig is moet bedink. Die rede? Dan sal die regte woorde kort op die hakke van ons gedagtes begin volg. Reg dink lei tot reg kyk en tot reg praat. Om die regte gedagtes in God se teenwoordigheid aan te leer, lei tot ’n nuwe woordeskat wat oorloop van blydskap, lof en vreugde. Dan eers word ons magneties vir die Here. Niemand wil te veel tyd in die geselskap van swartgalliges en negatiewe mense deurbring nie. Taal propvol lof en hoop eer God en bou ander mense op.
Onthou: die taal wat jy praat, verklap alles oor die roetes van jou hart! Dink en praat Fillipense 4:8 agterna en nuwe lewe begin gebeur in jou eie omgewing!