Is jy ’n selfgerigte leier of ’n dienaarleier?
deur Luther Backer
Leierskaplesse wat ons van Jesus kan leer (Deel 4)
Jesus was die mees suksesvolle leier van alle tye. In ’n kort periode van omtrent 3 jaar het Hy die grondslae van die grootste beweging ooit bekend op aarde, die Christelike geloof en kerk, tot stand gebring en dit brei steeds uit.
Ken Blanchard en Phil Hodges het in Lead Like Jesus, W Publishing Group, Nashville, 2005 die vernaamste lesse breedvoerig beskryf wat ons van die grootste leierskapmodel van alle tye, naamlik Jesus, kan leer. Hulle wys daarop dat Jesus in Mat 20:25-28 aan sy dissipels oorgedra het wat die belangrikste beginsel is wat Hy van hulle verwag om leiers van mense te wees: “Jesus roep hulle toe nader en sê: ‘Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.’”
Jesus as rolmodel vir leiding op alle lewensomstandighede en -terreine
Jesus het as mens aarde toe gekom en geloofwaardigheid as leier opgebou deur kenner van die Skrifte te wees, deur te bewys dat Hy weet hoe dit is om in ’n groot gesin met die gepaardgaande gesinsverhoudinge op te groei, deur ’n skrynwerkerswerkswinkel te bedryf waarin hy moes leer wat dit is om hard te werk en besigheid op ’n eerlike manier te bedryf, deur vertroud te raak met die landbou, die boubedryf, die politiek van die dag, die vissersbedryf en talle ander aspekte van die samelewing. Maar nogtans is Sy leierskap dikwels deur mense betwyfel, selfs deur van sy dissipels in Sy binnekring van vertrouelinge. ’n Voorbeeld hiervan is Simon Petrus wat skepties was oor Jesus se leiding van visvangs toe Hy hom hom versoek het om sy nette uit te gooi omdat hulle die heel nag niks gevang het nie en Simon ’n ervare visserman was, maar omdat dit op Sy instruksie was het hy die nette uitgegooi en die nette wou skeur van die baie vis. Met hierdie wonderwerk het Jesus vir Petrus getransformeer van ’n visserman tot ’n visser van mense (Lukas 5:1-9).
Jakobus 1:5 herinner ons daaraan dat Jesus intiem betrokke by al die aspekte van ons lewe wil wees — waarmee ons ookal besig mag wees: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” So ook word ons in Spreuke 3:5-6 aangemoedig om volkome op die Here te vertrou en om nie op eie insigte staat te maak nie asook om Hom te ken in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Ons kan Hom as die perfekte Een vertrou om te volg wanneer ons leiding oor ander probeer neem. Ons moet egter weet dat as ons Sy voorbeeld as leier wil volg, ons bereid moet wees om nie leiding te gee tot ons eie voordeel nie, maar om met ons leierskap ’n dienskneg van ander te wees. Dienaarleierskap is ’n lewendige bewys van wie ons in Christus is, hoe ons mekaar behandel en hoe ons die liefde van Christus aan die hele wêreld demonstreer.
Is jy ’n leier en vir wie?
’n Leier is nie noodwendig altyd net ’n persoon met ’n titel van een of ander hoof soos ’n besigheidsbestuurder, ’n weermagoffisier of ’n kaptein van ’n sportspan nie.
Leierskap is ’n proses van beïnvloeding van mense. Wanneer jy oorweeg om die denke, gedrag of ontwikkeling van mense te beïnvloed as hulle daardeur ’n doelwit in hulle persoonlike of professionele lewe wil bereik, neem jy die rol van ’n leier oor (Blanchard en Hodges p.5).
Optredes soos die volgende is voorbeelde van leierskapsaktiwiteite omdat hulle mense daardeur beïnvloed — positief of negatief:
’n Vroulike inwoner van ’n woonbuurt waar baie misdaad voorkom, leer jongmense verskillende musiekinstrumente speel en het ’n orkes gestig waarmee sy hulle van die straat af hou.
’n Stadsklerk verhoog produktiwiteit in ’n munisipaliteit dramaties deur bonusse te betaal aan werknemers wat bykomstige kwalifikasies behaal wat verband hou met hulle werk.
’n Versorger van ’n parkinsonpasiënt wat met groot geduld die pasiënt help om oor die weg te kom ten spyte van erge balansprobleme.
’n Onderwyser wat daarin kon slaag om die leerders in sy klas vir mekaar te leer omgee deur mekaar met moeilike skooltake te help en mekaar aan te moedig.
Die visie wat Jesus se Vader vir Hom gehad het
Jesus het gekom om die visie te dien wat Sy Vader vir Hom gegee het. Hy het gekom as leier en leermeester om mense voor te berei om uit te gaan en volgens daardie visie te lewe.