Toe verloor die dood
deur Stephan Joubert
Dit staan soos ’n paal bo water dat ons almal iewers vir ’n laaste keer gaan asemhaal. Ons gaan onsself op ’n dag dood leef. Presies dit het met Jesus gebeur daar aan die kruis. Sy lydingsroete het daar by Golgota tot ’n wrede einde gekom. Sy laaste asem het Hom verlaat op daardie donker Vrydag kort nadat Hy uitgeroep het: “Tetelestai.” “Sending afgehandel!” Maar daar was nog een hekkie vir Jesus om te oorkom — die doodsgrens. Niemand het nog ooit van die anderkant af lewend teruggekom met ’n splinternuwe liggaam en al nie... Wel nie tot daardie eerste Sondag anderkant die kruis nie. Op daardie dag het Jesus die greep van die dood vir altyd afgeskud. Hy het lewend teruggestap na sy kerk toe.
Die dood se angel is uit. So skryf Paulus in 1 Korintiërs 15. “Die Here het opgestaan en Hy leef.” So praat sy volgelinge vandag nog na daardie lewensbelangrike Opstanding Sondag. Die Heer se graf is leeg. Daarom dat ons as gelowiges vir altyd hoop het. Die dood se fut is uit. Dit gaan ons nie vir altyd gevange hou nie. Daar wag nuwe lewe anderkant die dood se grensdraad — ewigdurende lewe saam met Jesus! Gelukkig spoel daardie einste lewe van Christus nou al oor hier na ons kant toe. Want Jesus is by ons al die dae tot aan die einde van die dae.