Meer liefde in die koffiewinkel as in die kerkgebou
deur Stephan Joubert
Terwyl ek tans vir twee maande in Nederland klasgee, loop ons verlede Saterdag in die Duitse stadjie Solingen rond. Vroegoggend besoek ons ’n plaaslike koffiewinkel. Die dame agter die toonbank gesels en skerts luidrugtig met ons. Sy maak tussendeur ’n paar ligsinnige grappies wat ons effe laat bloos. Laatmiddag besoek ons ’n mooi plaaslike kerk. Terwyl ons daar rondstap op die liturgiese ruimte kom die opsigter skielik na ons toe en versoek dat ons dadelik daar moet padgee. In geen onduidelike taal nie stel hy dit dat gewone mense nie daar hoort nie. Tevergeefs probeer my vriend Jan van der Watt aan hom verduidelik dat dit darem nie die gesindheid van Christus weerspieël om mense te verjaag asof die liturgiese ruimte heilig is nie. Hy kon egter net sowel met ’n muur gepraat het. Die kerklike was onverbiddelik.
Terwyl die kerkkoor wat daar in die kerkgebou oefen al te lustig sing oor God se liefde, wonder ons toe onder mekaar waar ons Saterdag meer tuis gevoel het — by die luidrugtige, nie-kerklike dame in die koffiewinkel, of in die plaaslike Duitse kerk waar alles so vroom is as wat kan kom? Opnuut besef ons toe hoe versigtig ons elkeen moet wees om verwelkomend teenoor ander op te tree in Christus se Naam. Ons moet geken word aan ons gasvryheid en openheid, nie aan ons oordadige verknogtheid aan geboue, instellings en dooie tradisies nie.