Jesus se roete is ons lewe
deur Stephan Joubert
’n Legende vertel dat daar ’n geskokte stilte in die hemel was toe die nuus breek dat Jesus aarde toe kom om Sy lewe af te lê. Die aartsengel Migael het dadelik aangebied om in Christus se plek te kom. Jesus het geweier. Ander engele was dadelik bereid om die mooiste koninklike klere vir Jesus te maak vir sy lang reis aarde toe. Jesus het dit ook van die hand gewys. Hy het geantwoord dat Hy reeds klere vir sy reis uitgekies het; klere wat nie in die hemelse hangkaste beskikbaar was nie. Toe moes die engele hoor Jesus se klere vir sy aardse verblyf is slawedrag. In die klere van die geringstes het Hy hier tussen mense kom loop. Nederig, vreemd en uit plek, dis hoe Hy ons kom besoek het. Maar die mees tragiese plek waar Jesus ooit aangedoen het tydens sy aardse besoek was die houtkruis van Golgota.
Kruisigings was nie sulke bloedlose, beskaafde gebeurtenisse soos wat die meeste skilderye van Jesus se kruisiging aan ons probeer voorhou nie. Dit was barbaars en skrikwekkend. Die eerste eeuse Romeinse filosoof, Seneka, het gesê dat as jy tot ’n kruisdood veroordeel is, dan moes jy probeer selfmoord pleeg as jy enigsins kon. Volgens hom was dit die wreedste dood wat iemand kon sterf. Ten spyte van al hierdie wreedheid het Jesus die Via Dolorosa enduit gestap. Hy het nie uitgedraai toe Hy in Getsemane die kans gehad het nie. Sy skouers was daardie Vrydagoggend breed genoeg om al ons oortredings saam met Hom kruis toe te dra. Daarom dat hierdie wrede plek van dood, genaamd Golgota, in dieselfde asem ook van lewe en hoop getuig. Dit vertel hardop van God se nuwe begin met ons. In hierdie week onthou ons met diep seer en nederigheid die houtkruis wat ons Heer om ons onthalwe aangedurf het.