Troetelsondetjies
deur Alet Gardner
Wanneer daar oor sonde gepraat word, dink ons dadelik aan egbreuk en dronkenskap, aan vuil taal en aan die rookgewoonte wat jou liggaam aftakel, maar ons vergeet van die troetelsondetjies wat dikwels minder sigbaar is — dikwels nie voordat die gevolge vernietigend en amper onomkeerbaar is nie.
Bekommernis is een van hierdie sondetjies. Dit klink maklik edel — ek gee dan regtig om! Maar eintlik dui dit op ’n begeerte om in beheer te wees, ’n onvermoë om God te vertrou. Die skrywer aan die Hebreërs herinner my daaraan dat God self gesê het dat Hy my nooit verlaat of in die steek laat nie, dat ek met vertroue kan sê dat Hy my helper is en ek geen vrees hoef te hê nie. As ek besef dat God beter kan sorg as wat ekself kan, sal ek my tiener of adolessent vir Hom kan gee, Hom vertrou om hulle deur die doolhof van keuses heen te beskerm — ook teen die verkeerde keuses wat hulle in die proses kan maak. So het Alta haar tienerseun met sy issues vir die Here gegee en jare later ontdek dat God getrou was en haar kosbare seun deur sy storm en drang jare heen beskerm het ten spyte van molestering deur ’n onderwyser. God kán beter sorg as wat ek kan. My verantwoordelikheid is om gesonde grense neer te lê, maar ook te bly bou aan ’n liefdevolle verhouding met my kind sodat hy jare later met vrymoedigheid kan getuig dat hy heel (of met ’n mate van skade) anderkant uitgekom het en watter lesse hy daaruit geleer het.
Om ander te beoordeel en veroordeel kan so maklik ’n gewoonte word. As die “meetsnoere ... vir my in lieflike plekke geval” het (Psalm 16:6 1953 Vertaling) is die versoeking groot om mense wat finansieel swaar kry of in stukkende verhoudings vasgeval is, te veroordeel oor hulle skynbare gebrek aan geloof, of onwilligheid om hard te werk. Beterweterigheid is nie ’n Jesus-eienskap nie. Hy sou eerder dat ek bid vir wysheid en dan met nederige liefde en met praktiese hulp uitreik soos Hy my lei.
Onvergewensgesindheid kan maklik weggepraat word, geregverdig word deur te wys na die foute en tekortkominge van die oortreder — my vriend wat my finansieel te na gekom het, my vriendin wat so besig was met haar eie krisisse dat sy nie my nood raakgesien het en my nie ondersteun het toe ek dit nodig gehad het nie. ’n Ware volgeling van Jesus moet hierdie troetelsonde bely en laat staan — en met ’n opregte hart Jesus se liefde uitleef.
Ooreet is ’n troetelsondetjie wat dalk jare mag neem om werklik sigbaar te raak — en teen daardie tyd is die gewoonte al so vasgelê dat dit uiters moelik is om daarvan af te sien. Terwyl sekere voedingstowwe chemies ’n uitwerking op die brein en emosies het, is die werklike trooskossies die eintlike sondebok — daardie geregte wat ons aan goeie tye (veral uit ons kindertyd) herinner. Die versoeking is om gereeld troos vir my stresvolle omstandighede in hierdie kos (wat gewoonlik laag in voedingswaarde en hoog in kilojoules is) te soek in plaas daarvan om met my probleem na die Here toe te gaan en Hom te vertrou met my hartseer, teleurstelling, bekommernis, frustrasie.
Oswald Chambers waarsku:
... the penalty of sin is that gradually you get used to it and do not know that it is sin.