top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Gesonde families werk anders, die Here se familie ook!

deur Stephan Joubert

Vreemd dat mense dink respek is sinoniem met formaliteit. Of met titels. Nee, ek het nie ’n probleem met funksionele titels elders in die samelewing nie. As ek ’n medikus dokter noem, gebeur dit binne ‘n professionele konteks. Dieselfde geld vir kaptein, professor, meneer, ensovoorts... totdat ek hulle beter leer ken.

Die kerk is nie ’n professionele spasie nie. Dis die Here se duurgekoopte, aardse familie. Hier is familietaal nie formeel nie, maar intiem. Dit oorbrug afstand. As ons dit snap, sal ons ophou om kerklikes as “u” aan te spreek, wat ewe familie-vreemd is. Of om titels soos dominee en pastoor te gebruik. Of dink ons steeds Jesus het sommer ’n ligte opmerking gemaak toe Hy in Matteus 23 die gebruik van godsdienstige titels tussen sy mense verbied het? As ons Matteus 23 weer terugplaas in ons Bybels, sal ons ophou om die kerk as ‘n titel-aangedrewe, formele institusie te bedryf. Dan sal ons dit weer as die Here se aardse familie begin verstaan wat op voornaamterme funksioneer en waar mense mekaar op die hande dra, soos wat dit in enige gesonde familie hoort.

Van familiewees gepraat — vroulief en ek kry dit heel goed reg om vakansies te beplan, iewers ‘n motor te koop, en betrokke te wees by ander se nood sonder amptelike verslae of kommisies van ondersoek. Ook hou ons nie huisvergaderings as die res van die familie kom kuier met lief en leed as punt een op die agenda voordat die “eintlike” sakelys afgehandel word nie. Die rede: ons is regtig ’n familie, nie net “broeders en susters” tydens kerklike vergaderings nie. Ons is mekaar se lewende agendas. Ons vertrou mekaar. Hoeveel te meer behoort die Here se kerk nie so te funksioneer nie. Kerk is nie ’n plek waarheen ons op Sondae gaan nie. Dit is die Here se nuwe familie. Kerk gebeur daar waar Jesus se mense is. Kerk is ’n werkwoord. Maandae tot Sondae is kerk die wêreld vol. Dit is ons elkeen se roeping om hierdie familiebande gedurig sigbaar te maak en sterk te maak.

bottom of page