Die probleem: ons word groot
- ekerkweb
- Apr 3, 2014
- 1 min read
deur Stephan Joubert
Die probleem met ons almal is dat ons opgroei. Ons word groot. En dan bly ons groot. Grootmense het min vrae, maar baie antwoorde. Ons het die lewe kant en klaar uitgesorteer. Ons het reeds ons geleenthede ingeperk, of hulle een vir een opgebruik. Kinders daarenteen, het baie geleenthede én baie vrae. Kinders is leergierig. Hulle wil alles weet. Die meeste grootmense se kreatiewe leervaardighede het egter lankal in onbruik verval. Daarom dat Jesus ons ’n paar maal oproep om weer kinders te word.
Agteruit grootword is die nuwe wagwoord in God se koninkryk. Dis die enigste manier om weer ons avontuurlustigheid en opregte geloof te herwin. En om ’n tweede naïwiteit tussen God en mense te hê. Prakties gebeur kindwees as ons elke dag kies om uit ons veilige kokonne van voorspelbaarheid en in beheer wees te ontsnap. Dit gebeur as ons kies om met kinderlike vertroue voor God te leef. Tim Robbins se opmerking: “It’s never too late to have a happy childhood,” geld daarom steeds vir elke navolger van Jesus. Nie een van ons is te oud om weer ’n kind voor God en tussen ander te word nie.
Recent Posts
See AllBrad Huddleston DIGITAL COCAINE A journey toward iBalance Christian Art 2016 Sosiale media het soos ‘n reuse bom ontplof en die hele...
Terwyl God se beloofde terugkeer skynbaar nie vandag gaan gebeur nie, vergeet ek maklik dat elke dag eintlik genadetyd is, tyd waarin ek...
Inkleurboek KLEURVOLLE INSPIRASIE VIR GROOTMENSE Kikker jou lewensreis op met kleur en Bybelse inspirasie Illustrasies deur Amylee Weeks...