top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Te min

deur Stephan Joubert

Ek kom agter ek het gedurig te min. Ek het te min geduld, wysheid, insig, begrip... Om nie eens te praat van die res waarvan ek ook te min het nie. Daar’s altyd te min tyd en te veel dinge om te doen. Of te veel vrae, probleme en krisisse en te min antwoorde en oplossings. Boonop is daar te min geld en te veel rekenings om te betaal. Senior geestelike mense sal hierdie toestand dadelik toeskryf aan te min geestelike groei.

Ek het agtergekom die EERSTE geneesmiddel vir hierdie “te min” toestand is om te weet net die Here het te veel. Daar’s altyd ’n oorvloed genade, lewe, vergifnis, liefde en omgee in sy hemelse voorraadkamers. Paulus skryf in Efesiërs 2 God is ryk in barmhartigheid en Hy het ons innig lief. Hy beskik oor te veel redding — soveel soveel so dat sy genade tot ’n ewigheid anderkant die dood effektief is vir elkeen wat Hom ken en dien.

Die TWEEDE geneesmiddel vir hierdie gedurige “te min” gevoel is vrygewigheid. Jy het reg gelees! Vrygewigheid is deel van God se plan. Paulus sê in Handelinge 20:35 dat die Here Jesus ons geleer het dit maak mens gelukkiger om te gee as om te ontvang. Vrygewigheid is nie maar net ’n deug nie, dit is deel van die ABC van geloof. Nee, jy hoef nie baie op jou naam te hê voordat jy mededeelsaam is nie. Johannes die Doper sê in Lukas 3 dat as jy twee hemde op jou naam het, kan jy een deel met iemand anders. Vrygewigheid gaan daaroor dat jy jouself voortdurend aan God en aan ander gee.

Alles wat ons ontvang by die Here moet ons deel. Dan verdamp daardie “te min” kondisie in ons harte soos mis voor die son.

bottom of page