top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Luister

deur Marietjie Joubert

Jakobus 1:19

As onderwyseres is ek gewoond om baie te praat. Ek ken my stem, ook as hy kwaad is. ’n Mens raak gewoond aan klasgee en die klank van jou eie stem. Luister is outomaties minder en kwaad word het oor die jare verflou.

Jakobus wys ons egter op ’n belangrike feit, ons moet meer luister. Ons moet ons pertinent instel om te hoor wat ander sê of vertel. Deur te luister ontdek jy geheime in die lewens van ander. As jy meer luister kom jy agter daar skuil swaarkry in iemand se verhaal. Jy sien dalk vir die eerste keer die ware persoon raak agter die woorde omdat jy vir die eerste keer regtig geluister het. Ons het verleer om na mense te luister. Is ons nie dalk te selfgesentreer en te lief vir ons eie stemme om goed te luister nie? Jakobus sê ons moet gewillig wees om te luister. Dalk is dit die bereidwilligheid wat maak dat ons nie luister nie.

Die volgende opdrag wat Jakobus gee is dat ons nie gou moet praat nie. Ek dink die stilbly gedeelte is moeilik vir ons vrouens. Ons babbel tog te graag en daar is niks mee verkeerd nie. Dit is tog hoe die Here ons aanmekaar geweef het. Maar soms moet ons ander se behoeftes voorop stel en al ons aandag vestig daarop om te luister. Ons moet ook leer om ons woorde te tel. Minder praat en woorde tel gaan dalk maak dat jy minder in die moeilikheid kom. Deur jou woorde te tel en minder te sê, sal jy dalk minder mense met jou woorde seermaak.

Jakobus se laaste opdrag in hierdie vers is dat jy nie gou moet kwaad word nie. Ai, soms is dit net nie maklik nie. ’n Mens wip jou gewoon net te gou. Ons vrouens weet van wip. Ons kan dit baie goed doen. Jakobus praat hier nie net met vrouens nie, die opdrag geld vir almal. As ons meer luister en minder praat sal die vinnig kwaad word dalk ook sommer wyk. Kom ons maak dit ’n missie vandag om te luister, min te praat en vergeet om kwaad te word.

Gebed

Here, maak my vandag sensitief om te luister, min te praat en help my om my woede diep weg te bêre.

Amen

bottom of page