top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Ek gaan my horlosie beter lees!

deur Stephan Joubert

“Ons het tyd, maar julle het horlosies.” So sê iemand op ’n plattelandse dorp onlangs vir my. Toe voel ek skuldig. Nog iemand sê kort hierna vir my dat hy moedeloos word as hy iemand bel, net om die volgende woorde te hoor: “Ek kan nie nou met jou praat nie, ek is in ’n vergadering.” “Nou hoekom het die persoon dan geantwoord? Net om my te laat verstaan hoe besig hy of sy is?” wou my vriend weet. Toe voel nog ’n slag skuldig. Om alles te kroon, lees ek onlangs weer die volgende uit Jonathan Swift se storie oor Gulliver se reise: “When the Lilliputians first saw Gulliver’s watch, that ‘wonderful kind of engine... a globe, half silver and half of some transparent metal,’ they identified it immediately as the god he worshiped. After all, “he seldom did anything without consulting it: he called it his oracle, and said it pointed out the time for every action in his life.”

Ek besef opnuut hoe horlosie-gedrewe my eie bestaan is, al wil ek dit nie so hê nie. Tyd is te veel kere my baas. Altans, ek het eintlik te min tyd en te veel dinge om te doen. In sulke tye dat ek te min tyd het styg my bloeddruk en spanning plak ongenooid op my nekspiere. Is ek ’n horlosie-slagoffer? Ja! Gaan ek iets hieraan doen! Verseker! Wat? Wel, ek gaan kies om vandag tyd te hê! Vandag gaan ek tyd maak om doen waarvoor die Here my geskep het, soos wat Psalm 37 op verskillende maniere vir my leer. God en my geliefdes gaan vandag eerste in my lewe kom.

Nee, ek gaan nie ophou werk of skielik my horlosie weggooi nie. Ek gaan wel vandag se stukkie tyd tot my beskikking net rustiger doen, net een tree stadiger en sonder daardie alewige skuldgevoelens. Dit beteken nie ek gaan ophou om dringend te wees nie. Want dringendheid en besigwees is nie sinonieme nie. Dringendheid gaan daaroor dat ek vandag doen wat ek moet doen vir die Here. Maar ek gaan normaal, binne die spoedgrens werktoe, huistoe en na ander afsprake toe ry. O ja, en ek gaan ook nie langer ontsteld raak oor al die slegte hoofopskrifte in die koerante en elders in die lewe nie, maar die wêreld in die Here se hande los. Dan gaan ek dit môre weer doen... en oormôre!

bottom of page