top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

So neem ek die regte besluite

deur Stephan Joubert

Een keer het ek met iemand gesels wat in opdrag van ’n sogenaamde profeet ’n saketransaksie aangegaan het. Dié het verseker dat God groot winste aan hom sou gee. Toe speel die man egter bankrot. Hierna wou hy weet hoekom God dit toegelaat het. “Miskien om jou te genees van jou behoefte aan nog meer geld,” was my oorhaastige antwoord. Verbaas wou hy weet wat ek bedoel. “Die Here het ’n goeie sakebrein aan jou gegee om Hom mee te verheerlik en ander mee te dien. Toe verskuif jy jou verantwoordelikheid na ’n sogenaamde profeet wat geldelike wins vir jouself voorspel het.”

As ons nie die regte geestelike onderskeidingsvermoë aan die dag lê wanneer ons besluite neem nie, dan mis ons maklik God se roete. Gelukkig is daar ’n paar lewensbelangrike beginsels in die Bybel om ons te lei:

a. Alles gaan oor God se wil. In Johannes 6:38-40 sê Christus Hy het gekom om God se wil te doen. Dit is om die ewige lewe te gee aan elkeen wat in Homself glo. Elke besluit wat ons neem, moet bydra tot die uitvoer van God se plan.

b. Ons optrede moet ander mense tot ’n seën wees. Ook moet ons deur ons keuses ’n einde help bring aan al die kwaad wat dwase praat oor God se handewerke (1 Pet 2:15-17).

c. Ons keuses in ons huwelik en in alle ander verhoudings waarin ons staan moet die Here se heiligheid weerspieël en ons karakter voortdurend tot Sy eer vorm (1 Tessalonisense 4:3).

d. Ons keuses moet lei tot groter blydskap en sorgvryheid in die Here (1 Tessalonisense 5:16-18).

Wanneer ons besluite bydra tot die redding van ander en die vorming van ons karakter om meer toegewyd aan die Here te leef en diensbaar aan ander te wees, dan besluit ons reg.

bottom of page