top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Leierskapslesse wat ons van Jesus kan leer (Deel 3)

deur Luther Backer

Ek moet my vyande liefhê

In Mat 5:43-45 sê Jesus: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyande moet jy haat.’ Maar ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.”

Johan Smit van die Wes-Kaap wys daarop in Jesus aan die Woord, CUM, 2009 p. 208 dat die laaste gedeelte van vers 45 in Mat 5 beteken nie dat vyandsliefde ’n mens kind van God kan maak of dat jy kindskap van God daarmee kan verdien nie. Jou kindskap van God word vertoon deur die wyse waarop jy almal wat op jou pad kom, met liefde oorlaai — goeies sowel as slegtes. Met ander woorde, jou kindskap van God is gebaseer op die verhoudinge wat jy met mense het soos wat God die voorbeeld stel. Jesus sê van sy Vader: “Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle nog verwag?” (Mat 5:45-46).

Wie is jou vyande?

Al omskryf Jesus nie wat Hy verstaan onder vyandskap nie, kan mens aflei dat indien jy sou weier om sekere mense lief te hê, of mense sou weier om deur jou liefgehê te word, vyandig teen mekaar optree.

Daar is mense wat jou veiligheid bedreig, wat onwaarhede oor jou versprei, wat jou huweliksgeluk vernietig, wat baie onaangenaamheid vir jou in jou werk veroorsaak en nog talle optredes wat jy aan optrede van vyande kan toeskryf en wat jy meen jy die reg het om te haat. Maar Jesus sê duidelik dat ons nie kinders van God kan wees en terselfdertyd mense haat nie.

In ons land maak ons dikwels vyande van mense wat nie werklik vyandig teenoor ons optree nie, maar wat ons nie voor lief is nie. Ons praat dikwels van mense van verskillende bevolkingsgroepe anders as die bevolkingsgroep waaraan ons self behoort deur afbrekende byname vir hulle te gebruik soos dierename of fisiese of minderwaardige persoonlikheidskenmerke of swak intellektuele vermoëns. Baie van ons weier ook om enige opofferings te maak vir bevolkingsgroepe wat in die verlede benadeel is.

Om leiding aan Sy volgelinge te gee hoe om hulself voor te berei vir gesonde verhoudinge met mense, met die oog op kindskap van God, het Jesus dit nodig gevind om groot veranderings aan te bring in talle basiese opvattings, gebruike, waardes en sosiale sisteme wat die samelewing van die Bybelse tyd gekenmerk en wat groot ongelukkigheid veroorsaak het. Een van die belangrikste veranderinge wat Hy teweeggebring het was om die posisie van die vrou in die samelewing en in die gesin meer waardevol te maak. Vroue was altyd ondergeskik aan mans, hulle is ook as minder intelligent as mans beskou en hulle was net nog ’n besitting van mans en het min regte gehad. Hulle is nie toegelaat om enige onderrig te ontvang nie.

Stephan Joubert ontleed die veranderings wat Jesus ten opsigte van die posisie van die vrou in die Bybelse tyd gedoen het breedvoerig in Ontsluit die Nuwe Testament, pp 46-50. Jesus het vroue toegelaat om ’n prominente deel van Sy groter dissipelgroep te word, Hy het hulle onderrig in die Evangelie, toegelaat om eerste ooggetuies van die leë graf te wees en om ’n leidende rol te speel in die vestiging en uitbreiding van die vroeë kerk. Hy verwyder ook enige statusverskille tussen mans en vroue in die huwelik.

Jesus se voorbeeld

Al het Jesus sterk afkeurtaal gebruik teenoor die skynheilige optrede van Joodse godsdiensleiers en teen handelaars wat die tempel verontreinig het, het hy hulle nie gehaat nie en het hy gebid dat Sy Vader die soldate wat hom aan die kruis gespyker het, sal vergewe omdat hulle nie weet wat hulle doen nie.

Om Jesus se voorbeeld na te volg wat betref liefde vir ons vyand, moet jy nie toelaat dat ander mense jou gedrag bepaal nie, dat jy nie langer sensitief sal wees vir wat ander mense sê en doen nie en dat jy nie gedurig meer op die verdediging sal wees en jouself wil laat geld nie. Eers wanneer ons instrumente van God se liefde geword het, kan ons dit regkry om ons vyande lief te hê en diegene wat ons vloek, te seën. (Johan Smit, p.110).

bottom of page