Spasie of tyd?
deur Stephan Joubert
Dis een ding om tyd te maak vir iemand, maar dis iets anders om spasie vir hom of haar te maak. Om tyd te maak, moet jy eintlik net jou dagboek rondskuif. Om plek te maak, moet jy egter jou lewe rondskuif. Van tyd gepraat — dit is nie so moeilik om vir God tyd in te ruim nie. Al wat dit van die meeste mense vra, is ’n uur-tydgleuf iewers op ’n Sondag oggend. Of ’n 30 sekonde gebed voor elke ete. Of vyf minute vir “stiltetyd” voor slapenstyd. Maar dit is iets heeltemal anders om vir God spasie te maak. Wanneer Hy byvoorbeeld vra dat jy alles wat jy sê tot sy eer moet sê, soos wat Paulus in Kolossense 3 twee keer skryf, dan vra dit al die spasie op jou tong. Dan is jou woorde skielik nie meer joune om daarmee te maak wat jy wil nie. Wanneer God vra dat jy alles voortaan eksklusief tot sy eer moet doen, dan vat dit al die spasie in jou daaglikse lewe. God is nie net met ons tyd tevrede nie, want dan kan ons steeds dit met ons eie spasie-bestuur vul. Hy vra al ons leefspasies, dan word ons tyd ook Syne.