Gee met liefde
deur Elmarie van der Westhuizen
“You have not lived today until you have done something for someone who can never repay you.” — John Bunyan
In Desember 2013 verskyn daar in The Irish Post ’n ongewone advertensie. ’n Afgetrede butler wat die afgelope 10 jaar Kersfees alleen spandeer het, vra in die advertensie iemand om die dag saam met hom te vier.
James Gray, 85, het die ongewone versoek in ’n koerant geplaas na ’n dekade van eensaamheid en die Kerstyd alleen in sy woonstel. Die laaste persoon waarmee hy Kersdag spandeer het was met sy rekenmeester — 11 jaar vantevore. Die Ierse pensioenaris het gehoop dat die advertensie hom sal help om ander eensame mense te vind met wie hy Kersdag kon deel. Groot was sy teleurstelling toe slegs een persoon gereageer het op sy advertensie — om net daarna kop uit te trek. Nadat die berig op die voorblad van die koerant verskyn het, is mnr Gray oorval met uitnodigings van lesers, liefdadigheidsorganisasies en Twitter gebruikers. Hy het ook sy eerste Kerskaarte ontvang in jare — sommige van so ver as New York.
“Na al die jare van alleenwees is ek diep geraak deur hierdie reaksie van mense.”
Om goed te doen aan ander gee ons ’n gevoel van genoegdoening — dit word “helpers high” genoem. Die brein se beloningsentrum word gestimuleer en goedvoel chemiese stowwe soos dopamien en serotonien word afgeskei.
As volgeling van Jesus is ons motivering om goed aan ander te doen nie vir die “high” wat ons daaruit kry nie. Ons motivering is ons liefde vir Hom en ons liefde vir ander. Hierdie liefde wat oorloop in dade, in diensbaarheid en om ’n verskil aan ander te maak.
Ons almal het iets om te gee — of dit nou tyd, talente of geld is. Wat ons besit is geskenke uit God se hand — kos en klere, geloof, redding, ons huis, kar, breinkrag, ’n gesin wat lief is vir ons, ens. Nie om net op onsself te spandeer en vir ons eie genieting nie, maar om ook met ander te deel en hulle swaarkry te verlig. In Handelinge sien ons dat die vroeë kerk hul besittings onder mekaar verdeel het. En almal het genoeg gehad. God gee ons al hierdie wonderlike geskenke, besittings en talente om Hom mee te dien asook om ander mee te bedien. Ons is nie almal Bill Gates wat biljoene kan weggee nie, maar ons kan dien met wat ons het, hoe klein of hoe groot dit ookal is. Die weduwee in die tempel het gegee wat sy gehad het. “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.” (Markus 12:41-44)
Hierdie jaar gaan daar baie geleenthede oor ons pad kom om ander te dien. Laat ons gereed en gewillig wees wanneer dit gebeur. Hetsy dit is om kinders op te pas sodat ’n moeë mamma kan asemskep, jou buurman vir ete te nooi, die kassiere met jou vriendelikheid te verras of net as vrywilliger jou tyd beskikbaar te stel. Elke bietjie wat jy gee, maak ’n verskil aan ander — maak nie saak hoe klein of groot jou bydrae is nie.
Efesiers 6:10 — “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.”