top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Vervaldatums

deur Stephan Joubert

Daar’s ’n vervaldatum op omtrent enigiets in die lewe. Bykans elke blikkie, houer of bottel het iewers ’n boodskap wat lui: “fresh until” of: “sell by.” Ook gebeur dit met ons. Iewers bereik ons almal ’n vervaldatum. Of dit nou in ons werk is, of in een of ander komitee, groep of span — daar’s altyd ’n tyd om te vertrek. Wysheid is om te weet ons moet nooit ons identiteit vasmaak aan daardie beroepe of posisies wat ons vir ’n bepaalde tyd in die lewe beklee nie. Dan gaan ons na die tyd verbitterd raak en dink almal het ons vergeet.

Ons identiteit setel in die Here. Ons is volgelinge van Christus. Ons is sy voltydse volgers. Of ons werk-vol of werkloos is, ons leef tot God se eer, soos wat Paulus in Kolossense 3 skryf. As ons begryp ons is nuwe mense in Christus, dan raak ons vry om aan te beweeg na nuwe seisoene in ons lewe. Dan kan ons selfs vreugde vind in klein en onbelangrike dinge. ’n Leraar het my een keer vertel van ’n beroemde teoloog wat ’n lidmaat in sy gemeente was en wat na sy aftrede Sondagskool of katkisasie kom gee het. Toe merk ’n ander persoon eendag half sarkasties op dat hy nie verstaan hoekom almal soveel agting het vir daardie teoloog nie, want hy hou hom na sy aftrede met sulke “onbelangrike” dinge besig. Toe ek dit hoor, het ek egter besef daardie teoloog het die beste vir laaste gelos. Het Jesus dan nie in Markus 10 gesê dat elkeen wat wil groot wees in sy groep moet klein wees en almal se dienaar wees nie. Lyk my, die skuif is dus weg vanaf belangrike posisies na diens in Jesus se span. Terloops, daar is geen vervaldatum op kleinwees en diens in sy teenwoordigheid nie!

bottom of page