Verdiende koue water in my gesig!
deur Stephan Joubert
“Is dit die eerste keer dat jy preek?” So vra die blinde outjie vir my toe ek nou die aand by ’n Engelse kerk in Perth preek gedurende die tyd dat ek daar klasgegee het. Terwyl ek soek na woorde, stel hy ’n paar dinge voor wat ek kan doen om dit minstens volgende keer ietwat beter te doen. Ek moet sê, dit was ’n goedverdiende beker koue water in die gesig. Ek is nogals gefokus daarop om vir die afgelope jare reeds amper elke Sondagoggend en aand te preek. Maar toe hoor ek die waarheid padlangs uit die mond van iemand met ’n gesigsgebrek — “Practice sometimes doesn’t make it perfect!”
“Mens is nooit te oud om te leer nie,” lui die spreekwoord. Of ons dit doen, is ’n ander vraag. Soos wat iemand een keer gesê het: “Wysheid kom met ouderdom, maar soms kom ouderdom alleen.” Daarom dat ek moet aanhou leer oor enigiets vanaf prediking en kommunikasie tot by God se wil. Om een of ander rede raak ek gou gevestig in bekende gewoontes en roetines. Al vertrou ek die Here vir wysheid en leiding, weet ek dit onthef my nooit van my verantwoordelikheid om hard te werk en te leer by vriende, boeke en ook by die lewe self nie. Ek moet toelaat dat God my denke elke dag vernuwe, soos wat Paulus in Romeine 12 sê.