Onskuldig! Ja, jy!
deur Stephan Joubert
Hofsake gaan uiteindelik oor die vraag: skuldig of onskuldig? Ook in die hemelse regsaal is dit die finale vraag. Ons almal sal hierdie vraag eendag in die oog moet staar. Wel, hier’s slegte nuus: niemand wat hulle eie saak voor God behartig op daardie dag gaan dit maak nie. Niemand nie! Ons almal is skuldig. “Guilty as charged” — so vertel Paulus in Romeine 3:1-20. Ons oortredings is hemelhoog opgestapel as getuienis teen ons.
Daar’s goeie nuus ook. Hierdie nuus is so groot dat dit jou tot in ewigheid sal deurdra as jy dit glo. Ek praat van daardie goeie nuus dat jy eendag onskuldig uit die heel hoogste hof in die heelal kan uitstap. Jy kan vir ewig skotvry in God se teenwoordigheid leef. Nog beter: jy kan dit nou al weet. Ja, jy het reg gelees, hier en nou kan jy weet die straf is af. Die vonnis is opgehef want Jesus het die straf in jou plek gevat. Hy het met sy bloed al die getuienis teen jou in die hemelse boeke uitgewis. Glo dit net. Glo in Jesus met jou hele lewe. Dan is die hofsaak oor en verby. Dan gaan Jesus jou op die laaste dag veilig uit die regsaal begelei na jou ewige tuiste.