Staan die spasie vol op die regte manier
- Mar 3, 2014
- 2 min read
deur Stephan Joubert
Jona het te veel kere in die Here se pad gestaan. Vat maar die gebeure rondom sy roeping: God wou hom in Nineve hê, maar toe vlug hy per skip Tarsis toe. Toe tref ’n storm daardie einste skip. Al raad was dat die matrose Jona oorboord moes gooi, soos wat ons in Jona 1 lees. Toe is die skip gered, want die see het skielik kalm geword. Die tragedie is egter dat God eers sy profeet afboord moes kry voordat diegene aanboord gered kon word. So hoort dit nie. Ons is nie gered om net hierna die pad van redding vir ander te versper nie. Ons is veronderstel om deursigtig genoeg te wees sodat ander vir God kan raaksien.
Die kuns van geloof is om nie net klein genoeg voor ons groot God te wees nie, maar om boonop uit sy pad te staan as Hy mense wil red en verander soos wat dit Hom pas. Ons kan nie aan God voorskryf hoe, waar en wanneer Hy moet werk nie. Ons is in God se diens. Ons is sy knegte, nie sy adviseurs nie. Ons skryf nie aan Hom voor wat Hy moet doen nie. Dit het Jesus glashelder aan sy dissipels verduidelik in Lukas 17:7-10. Hy wil ons kragtig gebruik, maar soos wat Hy goeddink. As ons sy leiding volg, dan hoef ons nooit oorboord te gaan saam met Jona nie. So nie, is ons spasie-diewe. Dan vat ons onwettig plek op in die koninkryk van God. Hoor weer, daar’s regtig nie plek vir nuttelose of ongehoorsame rondstaners nie. Ons is gered om gereed te wees om die Here te alle tye en orals te dien. Kom ons raak dus klein en deursigtig genoeg sodat God ons kan gebruik.

Comments