top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Jy mág vrae vra

deur Milanie Vosloo

Maar as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei. Hy is immers die Gees wat die waarheid ken. — Johannes 16:13a

Gelowiges mág maar vrae aan God stel en aan Hom erken dat ons nié verstaan nie. Ons kan maar vir Hom sê wanneer ons twyfel of verward in ons geloof voel. Na al die eeue van gelowiges se worsteling, dink ek ons Vader verstaan ons harte maar al te goed. Boonop gaan enige verhouding mos deur groei- en bloei-tye: tye wanneer ons absoluut dankbaar en gelukkig saam met ons maat leef en ander kere wanneer ons minder “lief” vir mekaar is. Soos die getye van die see, so gaan ook ons verhouding met ons Here deur fases wanneer ons 100% geloofs-georiënteerd is, absoluut oortuig is van al die dinge waarin ons glo, sielsgelukkig voel om Hom in ons lewens te hê. Dan is daar dié tye wanneer ons sukkel om alles te verstaan, na Hom roep en voel of Hy nie hoor nie, vir Hom kwaad is en selfs vra: Waar is God as ek Hom regtig nodig het?

As daar disoriëntasie-tye is wanneer jy regtig deur ’n geloofskrisis gaan, vra dan dat die Gees jou – op sy tyd en sy manier – weer by sy heroriëntasie punt sal uitbring. Dat Hy jou weer na die plek sal neem waar jy met nuwe passie en vertroue wéét: Mý Verlosser leef régtig!

Hou my vas, al het ek u hand gelos. Help my glo, want self kan ek nie.

bottom of page