top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Een van die grootste gebede ooit

deur Stephan Joubert

Het jy al ooit Spreuke 30:7-9 raakgelees? Ek bedoel, regtig raakgelees. Hoor net:

“Net 2 dinge vra ek van U; moet dit my tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.”

Aangrypende woorde, of hoe! Dit is een van die heel belangrikste gebede ooit in die Bybel wat die heel minste gebid word. Agur, die skrywer van Spreuke 30, bid nie vir rykdom nie, daardie soort wat hom vergeetagtig sal maak wat God se dinge betref. Ook bid hy nie vir armoede nie, daardie soort wat hom sal laat steel. Is hierdie nie die gebed wat ons almal in hierdie dae moet bid nie. Nee, Agur se gebed is nie ’n algemene gebed, daardie “wees met die minderbevoorregtes-soort” nie. Of ’n gepaste gebed waarmee vele funksies oop en toe gebid word nie. Hierdie gebed is spesifiek. Agur weet presies waarvoor hy bid. Hy vra vir net genoeg daaglikse brood sodat hy afhanklik van God sal bly. Te veel aardse dinge kan sy afhanklikheid van God verminder, of selfs uitwis. Aan die ander kant kan te min basiese lewensmiddele weer die deur oopmaak vir verkeerde gedrag. Kom ons bid hierdie woorde vandag en elke ander dag agterna. Kom ons leef nou reeds die antwoord op hierdie gebed uit deur dankbaar te wees vir elke stukkie brood op ons tafel. O ja, en kom ons deel tussendeur ook ’n paar snytjies met diegene wat swaarkry.

bottom of page