top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Nabyheid

deur Stephan Joubert

“Just because I told you my story, does not invite you to be a part of it,” sê die karakter van Jack Nicholson in die film: The Bucket List. Die evangelie kies egter vir ’n teenoorgestelde roete. Nabyheid beteken vir Jesus altyd ook verantwoordelikheid. As navolger van Jesus kan jy nie anderpad kyk as mense rondom jou ly nie. Jy leef ook op die pad na Jerigo toe, op daardie einste pad waarop die Samaritaan homself bevind het van wie Jesus in Lukas 10 vertel. Hierdie verhaal onderstreep dat ons nie kan beplan wanneer of hoe ons ’n naaste vir ander wil wees nie. Ons het nie die “luukse” om vooraf te kyk of dit inpas by ons besige programme nie. Ons kan nie ons naaste-wees iewers op ’n “gepaste tyd” in ons dagboeke skeduleer nie. Dit gebeur onverwags en onbepland. Al wat ons moet doen, is om elke dag met die liefde van die Here te leef. Dan sal ons weet dat ons nooit aan die anderkant van die pad kan verbystap nie. Die Here se liefde sal ons die straat laat oorsteek na daardie plekke waar Hy Hom oor mense in nood ontferm.

bottom of page