Help
deur Stephan Joubert
Verlede week drink ek en vriend Neels Jackson koffie in ’n restaurant. Terwyl ons sit en gesels, sien ek deur die venster hoe ’n bakkie ’n hele ent verder sy vrag verloor. Dit was ’n matras wat agterop vasgemaak was. Genadiglik kon die motoris agter die bakkie darem betyds rem. Die bakkie moes egter 500 meter aanry voordat daar ’n verkeerslig was waar die bestuurder kon omdraai. Intussen het ’n taxibestuurder, wat nie gesien het wat gebeur nie, in die ander baan aangekom en die matras in die middel van die pad sien lê. Toe trek hy dadelik af en waag dit te voet in die verkeer in. Gou-gou was dit duidelik dat dit sy plan was om die ongeduldige Pretoria verkeer weer aan die vloei te kry. Hy het die matras op die sypaadjie gaan neersit en daar bly staan. Uiteindelik het die bestuurder van die bakkie sy draai gekry na ’n paar minute en op die toneel aangekom. Net daar het die taxibestuurder die sware matras op sy skouers getel en dit weer op die bakkie gelaai. Die jong wit outjie wat die bakkie bestuur het moes sekerklik oorbluf gewees het.
Ons het so gewoond geraak daaraan dat taxibestuurders lewensgevare op die pad is. Maar toe stop die taxibestuurder in ’n besige straat en help iemand wat hy van g’n kan af ken nie. In dieselfde tyd verlede week sien ek ook op die besige R21 tussen Pretoria en Kempton Park hoedat ’n taxibestuurder langs die pad besig is om ’n hulpelose vroutjie se motor se pap wiel om te ruil. Wat sal nie alles gebeur as ons ons vooroordele wegpak en kleurblind of statusblind raak nie. Dalk moet ons net ophou vra: “What’s in it for me?” In elk geval is dit die verkeerde vraag as Jesus ons Heer is.