top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

So hanteer jy teleurstelling reg

deur Stephan Joubert

Een lewensdroom wat Dawid nooit kon waarmaak nie was om ’n tempel vir God te bou. Toe hy op ’n dag sien hoe mooi sy eie paleis is terwyl die ark van God steeds in ’n tent staan, het hy met die profeet Natan hieroor gaan gesels. So lees ons in 1 Kronieke 17. Toe wys die Here daardie nag vir Natan dat Hy nie nog ’n mooi gebou van Dawid wil hê nie. Tog sal God wel ’n ewige koningskap deur Dawid se nageslag vestig. Sy seun sou wel die voorreg kry om die aardse huis van God te bou, nie Dawid nie. Toe Dawid dit hoor, het hy sy teleurstelling gou verwerk deur dit te vervang met ’n diep dankbaarheid. Hy het voor die Here gaan sit en gesê:

“Wie is ek, Here God, en wie is my nageslag dat U my so ver gebring het? Selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, o God: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak, U sien my as die man wat soos ’n duif die hoogtes bereik, Here God” (1 Kron 17:16-17).

God se planne is nie ons planne nie. Al is ons planne goed en opreg, moet ons dit steeds aan God se wil toets. Ons moet onsself aan sy wil onderwerp. Soms moet ons, soos ’n Dawid van ouds, by die Here hoor dat Hy ander roetes vir ons in gedagte het as wat ons gedink het. Dan moet ons saam met Dawid voor die Here gaan sit en wag op Hom. Nog meer, dan moet ons al daardie seëninge tel wat tans oor ons reën. Pleks van te fokus op ons teleurstellings of verlies, moet ons gaan kyk na dit wat tans in ons hand is. Jare gelede was vyf klein klippies in Dawid se hand meer as genoeg toe hy sy seëninge getel het in Goliat se nabyheid. Hierdie slag in 1 Kronieke 17 was sy hand gevul met God se ewige nabyheid. Daarom sy diep dankbaarheid.

Teleurstelling of mislukking beteken nooit die einde van die pad nie. Daar is altyd nog ’n nuwe pad as die Here ons herder is. Of, soos wat enige branderplankryers sou sê: daar is altyd nog ’n golf! Ons moet voor die Here sit totdat ’n diep danbaarheid ons oorspoel. Ons moet sien hoe God se genade sigbaar die koers aanwys. Dan volg ons tree vir tree waar Hy ons lei.

bottom of page