Leierskaplesse wat ons van Jesus kan leer (deel 2)
deur Luther Backer
Vergewe mense hulle swakhede en foute
Terwyl Jesus in die tempel besig was om die volk te leer, het die skrifgeleerdes en Fariseërs ’n vrou wat op owerspel betrap is voor Jesus gebring... Hulle wou hê dat Jesus haar doodstraf moes bekragtig ooreenkomstig met Moses se wette, maar Hy het hulle geïgnoreer en met sy vinger in die sand bly skrywe. Toe hulle aandring op ’n antwoord, sê Hy: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het (wat nooit ’n fout gemaak het nie), eerste ’n klip op haar gooi.” Hulle het een vir een begin wegloop (Joh.8:3-11).
Die vrou was skuldig maar Jesus het haar nie veroordeel nie en haar aangesê om nie meer te sondig nie. Jesus het geweet dat sy tot ’n skoon en vrugbare lewe instaat is en Hy het vir haar die geleentheid tot ’n nuwe lewe geskep deur haar swakhede te vergewe.
Talle gelykenisse is deur Jesus gebruik om vergifnis aan mense vir hul swakhede en foute te verduidelik. Hy het die koninkryk van die hemel vergelyk met ’n koning wat een van sy amptenare vrygeskeld het van ’n groot bedrag geld wat hy die koning skuld, maar die amptenaar het self ’n medeamptenaar in die tronk laat gooi omdat hy aan hom ’n geringe skuld nie kon terugbetaal nie. Die koning het hom vir sy harteloosheid gestraf (Mat 18:22-35). In ’n ander gelykenes van die verlore seun het die vader sy seun wat sy erfporsie uitgemors het, terugverwelkom met ope arms en al sy swakhede en foute onvoorwaardelik vergewe (Lukas 15:11-31).
Petrus het Jesus drie keer verloën waarvoor Jesus hom vergewe het, en Petrus het die rots geword waarop God Sy kerk gebou het. Jesus het aan die kruis Sy Vader gesmeek om hulle wat Hom die pyn aandoen te vergeef want hulle weet nie wat hulle doen nie (Lukas 23:33).
In die werksituasie maak werkers dikwels foute en wanneer ’n werker erken dat hy wel die fout gemaak het, en sê dat hy jammer is daaroor en alles in sy vermoë sal doen om die fout in die toekoms nie weer te herhaal nie, behoort jy as werkgewer sy verskoning te aanvaar. Hoe jy hierdie insident hanteer het, sal bepaal of hy sal leer uit sy foute en of sy agting vir jou toegeneem of afgeneem het. Is jy ’n bestuurder, ’n leier wat genade, barmhartigheid en vergifnis teenoor jou werkers openbaar, behoort ’n verhouding van wedersydse vertroue tussen julle te ontstaan.
Is jy egter bekend as ’n persoon wat nooit versagtende omstandighede vir werkers se oortredings soek nie, en jy hulle gereeld die maksimum straf toedeel vir foute of swakhede, sal jy dit moeilik vind om Jesus as leier rolmodel na te volg.
Suid-Afrika is bekend as die land met die swakste verhouding tussen werknemers en werkgewers in die wêreld en dit in ’n land wat roem op sy Christelikheid. Wyduiteenlopende vooroordele, diskriminasie en viktimisasie ten opsigte van faktore soos ras, geslag, taal en spraak, politiek en godsdiens kenmerk talle werkplekke en organisasies. Al wat die verhoudinge tussen ons verskillende bevolkingsgroepe kan verbeter is om liefde vir mekaar van God te bid en mekaar te vergewe vir onreg mekaar aangedoen.