So ken jy godsdienstige– en ander straatvegters uit
deur Stephan Joubert
Godsdienstige verdagmakers is volop. So ook daardie ateïstiese brigades wat dit hulle stokperdjie maak om kerklikes uit te haal. Hoe ken jy straatvegters in godsdienstige en nie–godsdienstige geledere uit? Wel, hier is ’n paar riglyne:
Hulle skryf graag onder skuilname. Mense wat ’n obsessie het om uit te wys hoe verkeerd is almal wat nie soos hulle glo of dink nie, is nie lief om hulle eie identiteit aan die groot klok te hang nie.
Hulle is brutaal. Verfyndheid, deernis of die vermoë om te hoor en daadwerklik met ander te “engage” op ’n volwasse manier, ontbreek by hulle. Die vermoë om te hoor of genuanseerd te dink is ook afwesig.
Hulle staan alleen die morele hoëgrond vol. Die waarheid is aan hierdie godsdienstige of ateïstiese straatvegters se kant. Hulle weet presies wat dit is en ook wat alles verkeerd is met indiwidue of groepe wat deur hulle as vyande van hulle waarheid uitgewys word.
Hulle vind ander skuldig by wyse van assosiasie. Met ander woorde. As persoon A in hulle oë verkeerd is en persoon B haal persoon A iewers aan, dan is B skuldig deur assosiasie met A.
Hulle maak ook van “thin slicing” gebruik. Hulle haal een sin uit konteks aan van wat iemand sê. Of verdraai ’n woord of twee wat ander sê. Of hulle gebruik materiaal wat ’n paar jaar verouderd is. Of lees nie alles wat hulle sogenaamde opponente skryf nie. Dan het hulle ’n strooipop wat hulle kan aanval.
Paulus skryf vir sy jongvriend Timoteus om niks met sulke rusiemakers te doene te hê nie. Om met mense te probeer stry wat godsdienstige gevegte voer is soos om in ’n skool se bendegevegte betrokke te raak. Daar’s geen wenners nie. Hou jouself liewers met dinge besig wat opbouend is en die Here tot eer strek. Staan uit godsdienstige straatvegters se pad.