Self-gemaak en verniet begenadig
deur Stephan Joubert
Verlede week ry ek agter ’n motor met die nommerplaat: “selfmade” daarop. Toe wonder ek of dit na die grênd kar verwys, of na die eienaar? Ons wil graag self-gemaak wees. Net jammer dit wat ons aanraak verander dikwels in chaos en sonde. Een van my vriende wat ’n kinderbediening gelei het vra juis eendag vir ’n woelerige seuntjie hoekom hy so stout is. “Kan ek vir oom ’n geheim vertel? Ek het myself geleer,” antwoord hy. Wysheid so reg uit ’n kind se mond, of hoe! Onsself is die oorsaak vir die meeste van ons moeilikhede en probleme. Ons neem slegte besluite. Ons maak droog. Ons vang dwase dinge aan waaronder ons lewenslank ly. Nogtans kies baie mense om die Here hiervoor te blameer. Hulle swaai verwytende vingers in God se rigting as hulle selfgemaakte probleme hulle inhaal.
Hier’s ’n lewensbelangrike nuusflits: God laat Homself nie in ons beskuldigdebanke indwing nie. Soos wat Hy eeue gelede reeds vir Job gewys het, is Hy nie ons speelmaat nie. God is groot. Hy hou tyd en ewigheid in sy handpalms vas. Ons is maar net ’n stofkolletjie op die hemelse weegskaal soos wat Hy sê in Jesaja 40:15. Daarom moet ons ons plek ken as ons op die drie-enige God se terrein is. O ja, ons moet ook verantwoordelikheid vir ons eie foute vat. Jakobus 1 sê dit is onsself wat kies om deur versoekings oorspoel te word. Dit is ons wat kies om agter ons eie dwase gedagtes en drome aan te hardloop. Maar gelukkig is God genadig met ons. Hy hou nooit ons foute en oortredings teen ons as ons dit gelowig aan sy voete parkeer nie. Hy maak boeke toe en oop! Al die verkeerde boeke met die hemelse oortredings teen ons name is by die kruis agtergelaat — dis heeltemal toe en dis afbetaal (Kolossense 2:14). ’n Vars begin is ons voorland, een waar die Gees self saamstap as ons gids. Hy skryf nou ’n splinternuwe vervolgverhaal met ons lewe.