“Jy behoort aan My”
deur Francine van Niekerk
Dit is die beeld van ’n vrou met ’n rooi lint om haar nek wat ek altyd sal onthou. Die lint ’n simbool van eienaarskap. ’n Teken dat sy aan Iemand behoort. En saam met die beeld was die belofte: “Geeneen sal die lint wat Ek om jou bind, van jou kan afhaal nie. Jy behoort aan my.”
Dit ís so dat die besluite wat ’n mens neem, die gesindheid van jou hart, die gedagtes in jou binnekant dikwels daardie rooi lint en sy belofte bevraagteken. Soms gebeur die lewe, en daardie opgewondenheid oor ’n rooi lint en ’n Geliefde aan Wie jy behoort, vervaag.
As die dag kom dat ons wil terugdraai na ’n lewe waar ons soos ’n diensmaagd neerkniel voor ons Meester, oortuig ons onsself dikwels dat daardie rooi lint êrens langs die pad afgeruk is. Of nog erger: Dat dit ons taak is om daardie lint weer om ons nek vas te strik. Maar hier is die goeie nuus: Dit is God se lint, sy belofte. Daarin lê ons sekerheid. En die feit dat God getrou is. Al is ons nie.
Ja, ons doen moeite om by Hom neer te kniel, sy Woord te lees, stilte op te soek om die sagte fluistering van sy hart te hoor. Maar dit is Hy wat opbou en mooimaak dít waaraan Hy Homself verbind het. Daardie rooi lint is ook sý verantwoordelikheid — Hy is die Een wat dit daar vasgemaak het. En Hy is die Een wat dit daar sal laat bly.
Hosea 2:18-19: “Ek gaan jou my bruid maak vir altyd. Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees.”
Francine van Niekerk is waarnemende redakteur van LiG.