Wat as jy die dag jou nuttigheidswaarde verloor?
deur Stephan Joubert
“I’ve outlived my usefulness.” So het Bill Knight sy lewe opgesom in ’n onderhoud. Hy was al baie oud en eensaam. Toe besluit hy om Amerikaanse soldate wat uit Irak teruggekeer het by ’n plaaslike lughawe te verwelkom. Net dit. Hierdie eenvoudige stukkie omgee het kort voor lank wyd bekend geraak. Vele ander bejaardes het sy voorbeeld begin volg. Bill Knight se opregte handdruk waarmee hy terugkerende soldate verwelkom het, het vir baie mense sinoniem geword met omgee. Later het selfs George Bush, die eertydse Amerikaanse president hom ontmoet. Ook daar is ’n dokumentêre film oor hom en ander ouer persone gemaak wat soldate gaan verwelkom het.
Wanneer dit lyk of jou persoonlike nuttigheidswaarde verstryk, is daar altyd nog ’n kans om die teendeel te bewys. Jesus het op ’n dag gesê dat nie eens die kleinste daad van deernis, soos om ’n beker koue water aan een van sy profete te gee, ongesiens by God verbygaan nie. Nooit is een van ons in God se oë te oud, te arm, te eensaam, of te nutteloos om vir een ander persoon iets te beteken nie. Ons kan teen een daad van deernis per keer in die Here se Naam ander dien.