Die regte klippe herinner jou aan God se ingrypes
deur Stephan Joubert
Klippe is of boumateriaal of gooi-wapens. Dit het ons verlede week vir mekaar gesê. Maar klippe is ook geheue materiaal. Ja, jy het reg gelees. Klippe help ons met ons geestelike geheue. Ons raak gou vergeetagtig wat die Here se werke betref. Een manier hoe ons ons geheue oor sy teenwoordigheid kan opskerp, is om die regte herinnering-klippe op te rig. “Klippe regop sit?” Hoe gaan dit help met ons geestelike geheue? Josua 4 wys ons hoe. Hierdie teks vertel naamlik hoedat Josua die Israeliete beveel het om 12 klippe regop te sit nadat hulle deur die Jordaan geloop het. Hy doen dit om hulle en hulle kinders daaraan te herinner dat God hulle droogvoet deur die Jordaanrivier gelei het.
Ons moet daardie geleenthede waar die Here daadwerklik ingegryp het in ons lewe omlyn met herinnerings-tekens. In Israel se geval moes die klipstapeling by die Jordaan hulle en hulle nageslag aan God se redding herinner. Sy ingrypes moes Israel se daaglikse lewensstories word. Hulle moes ’n goeie geheue oor God se genade opbou. Hulle identiteit moes rondom sy reddende ingrypes gevorm word.
Ons moet by Israel leer deur bakens op te rig wat ons aan God se ingrypes herinner. My eie bakens is partykeer fotos, soos dié van ’n doop of ’n toewydingsdiens waar geliefdes hulle opnuut aan die Heer verbind het. Ook is dit sekere items in my huis, soos ’n geraamde groentemessie wat Vadim Poddubsky een keer in Rusland vir my gegee het toe ek daar klas gegee het. Dit was hulle enigste groentemes, en dit was my geskenk toe ek na ses weke teruggekeer het huistoe. Hierdie messie herinner my daagliks daaraan om alles vir Jesus te gee. Of nagmaalskelkies op my boekrak van spesiale nagmaal geleenthede in die tuingraf in Jerusalem om my ter herinner aan Jesus se sterwe om ons onthalwe. Ander herinneringsklippe wat ek opstapel is net simboliese bakens in my kop, soos wanneer ek by daardie plek verbyry waar ek een keer gekaap is en nie doodgeskiet is nie. Elke slag dank ek dan die Here dan dat Hy my agter die doodlyn kom uitred het. Of daardie een huis waar ek soms verbyry waarvan ’n vorige eienaar enkele minute voor sy eie dood die Here gevind het.
Watter klipbakens stapel jy op om jou aan God se ingrypes te herinner?