Klippe Leef
deur Stephan Joubert
Klippe is of wapens of boumateriaal. Of jy bou op daarmee, of jy beseer daarmee. Klippe kan jy nie ignoreer nie. As ’n groot klip voor jou in die pad lê, dan kan jy nie daaroor ry en maak asof niks gebeur het nie. En as ’n klip in jou rigting gegooi word, dan moet jy koes. Klippe is gevaarlik as hulle verkeerd gebruik word, maar beskermend as hulle in goeie hande is.
Klippe leef... volgens die Bybel, altans. Klippe praat. In Miga 6:1-2 lees ek hoedat God die berge en heuwels inroep as getuies teen sy volk. Met Jesus se intog in Jerusalem verneem ek dat klippe ook getuies is van God se werke. Met name word in Lukas 19:37-40 vertel hoedat ’n groot klomp mense Jesus se Goddelike heerlikheid besing. Toe vervies ’n paar Fariseërs hulle en beveel Jesus om sy volgelinge stil te maak. Hy antwoord hulle dat as die mense stilbly, dan sal die klippe dit uitroep dat Hy die Gestuurde van God is.
Klippe is nie aldag so dood soos wat hulle lyk nie. Die berge en die heuwels verkondig God se lof, maar hulle tree ook op as getuies teen ongehoorsames. Geen wonder nie dat die Bybel God gereeld as Rots beskryf (bv: Ps 31:3 en 62:6). Hy is ewig stewig. Hy is onwankelbaar. Selfs al bewe ons, dan beef die ewige Rots op wie ons staan nooit. Hy is ons bergvesting omdat Jesus ons Heer is. God is sterk en getrou. Nooit laat los Hy enige van sy duurgekoopte aardse eiendom nie. Nooit staan ons op ons eie nie. Die Here is die rots onder ons. Christus is ons fondament en hoeksteen. Geen stormwind kan ons van koers waai nie. Geen krisis kan ons geloofshuis ineen laat stort nie. Ons leef bo-op die ewige, onwankelbare Rots.