Kry vandag se porsie brood
deur Stephan Joubert
Brood bly nie vir lank vars nie. Dit moet betyds geëet word, anders raak dit oud en oneetbaar. Dieselfde geld met God se goeie gawes. Jesus leer ons in die Ons Vader om elke dag te bid om ons porsie daaglikse brood uit God se hand. Hemelse gawes word dikwels net een dag op ’n slag afgelewer. God se goedheid is reeds vir vandag bedoel, nie eers vir môre of die dag daarna nie. Elke porsie van vandag se hemelse brood moet dus vandag geëet word. Dit is nie bedoel om tot môre gebêre te word nie. Vandag is God se trou vars en nuut, soos wat Klaagliedere 3:21-22 ons verseker. Vandag word ons innerlik vernuwe deur die Gees, soos wat 2 Korintiërs 4:16 ons meedeel. Ons moet dit net in geloof ons eie maak.
Ons bekommer ons stokflou oor die dag van môre. Ons wonder of God ooit daar sal opdaag. Ons vra benoud of daar ’n toekoms op ons wag. Intussen deel God getrou nuwe hemelse brood uit op elke dag wat die naam vandag dra. Ons moet maar net afbuk en vandag se porsie optel, dit opeet en leef!