God kyk die voëls ook raak
deur Stephan Joubert
In Engels noem hulle daardie interessante mense “bird watchers.” Jy weet van watter mense ek praat. Dit is hulle wat sulke dik boeke op hulle rakke het wat elke denkbare voëlspesie beskryf. Dit is hulle wat ook elke geluid ken wat verskillende voëls maak en wat groot moeite doen om in die natuur te gaan soek na verskillende voëlspesies. Weet jy, God stel ook in voëls belang. Met respek, Hy ky nie net nie. Hy is in die ware sin van die woord ’n “bird watcher,” ’n Oppasser en Versorger van selfs die kleinste en onbelangrikste voëls van die veld. Daarom verwag Hy ook dat ons hierdie kosbare skeppingswerke van Hom sal raaksien en beskerm (Deuteronomium 22:6-7).
Jesus vertel met groot deernis hoedat ons Hemelse Vader vir die voëls van die hemel kos aandra. Hulle hoef nie groot skure te bou en jare se kosvoorrade op te gaar nie (Matteus 6:26). In Psalm 84 hoor ons ook dat die mossies en swaeltjies naby die heilige altare van die Here hul nessies bou. Hoe goed en genadig is die almagtige God nie! Hy wat alles in sy hand hou, doen soveel moeite om die kleinste diertjies van die lug raak te sien. En om vir hulle te sorg en hulle te onthou (Lukas 12:6). Hoeveel te meer sal Hy dit nie vir ons doen nie. Ons is oneindig meer werd as groot swerms mossies (Lukas 12:7). Ons is soveel werd dat God al die hare op ons kop getel het. Dit is detail! Dit is versorging op ’n totaal nuwe vlak!
Ons groot God is ook in die kleinste detail van die lewe betrokke. Hy versorg die voëls wat ons in die lug rondom ons sien vlieg. Hy weet van elkeen wat val. Ook weet Hy van elke haar wat elkeen van sy kinders verloor. Wat ’n wonderlike God! Ons kan Hom vertrou met ons lewens, en met dié van al ons geliefdes! Ons kan sorgloos in sy hand van genade leef.