Vanaf “selfie-sugtigheid” tot ’n nuwe storie saam met Jesus
deur Stephan Joubert
Hulle sê 2013 was die jaar van “selfies", oftewel, fotos wat mense van hulself met selfone neem. Dit het so gewild geword dat hierdie term in November 2013 as die term van die jaar aangewys is deur die Oxford Aanlyn Woordeboek. Aan die einde van 2012 het Time Magazine dit as een van die tien “buzz words” van die jaar uitgelig, terwyl “selfie” in 2013 deur die einste Oxford woordeboek tot ‘n nuwe Engelse term verklaar is. Wanneer ’n onlangse studie aantoon dat sowat 30% van alle fotos wat 18-24 jariges tans neem “selfies" is, dan is hierdie ’n tendens waarvan ons moet kennis neem.
Of ons nou “selfies” met ons selfone neem, of nie - ons almal is skrywers en akteurs in die storie van ons eie lewe. Ons is lewenslange storievertellers. Ons het dit by God geleer. Hy kon nie anders as om sy reddingsverhale in storievorm met ons te deel nie. Die Bybel is God se amptelike Verhaal. Dit is sy offisiële Outobiografie. Die Bybel is sy Selfbekendstelling wat grootliks in verhaalvorm gebeur. Hy gebruik graag verhale om Homself aan ons bekend te stel, een waar sy hart die heel mooiste ontvou rondom die kruis en opstanding van Jesus. Daar sien ons Sy liefde in volkleur aksie. Daar sien ons die heel beste en duidelikste fotos van God! Ons moet ook by Hom leer hoe om beter stories te leef. Om ons hiermee te help, nooi Christus ons uit om ons lewens modelleer aan die hand van Syne.
Ons “selfies” moet die kroniek of reisverhaal van ons lewe saam met Christus uitbeeld. Ons navolging van Hom verplaas ons blitsvinnig uit die hoofrol van ons lewe. Hy pas “self(ie)-beheer" op ons toe. Nooit laat die Here ons toe om die toneel van ons eie lewe selfsugtig oorheers nie. Christus verskyn immers saam met ons op al ons lewensfotos. Hy vertel die eintlike storie van ons lewe. Ons verskyn saam met Hom daar op die wennersplek, maar die eer en die oorwinning is Syne.