Leierskapslesse wat ons van Jesus kan leer (Deel Een)
deur Luther Backer
As ons goeie toesighouers of voormanne of voorvroue, bestuurders of direkteure wil wees om as leiers God met ons werk te kan verheerlik, moet ons kennis neem van hoe Jesus mense gelei het om Sy doelwitte mee te kan bereik. Hy het leiding gegee aan nie slegs die 12 dissipels nie , maar ook aan die groep van 72 dissipels wat hy twee-twee uitgestuur het, verskeie groepe vroue wat Hom gevolg en vir Hom gesorg het, en baie mense op ‘n een-tot-een basis. Ek gaan in die volgende drie bydraes hierdie onderwerp bespreek.
1. Wees as leier bewus van jou eie tekortkominge voordat jy iemand anders oordeel.
In Mat. 7:3-5 beklemtoon Jesus dat voordat jy ‘n effektiewe leier kan word , moet jy eers in die spieël kyk en jouself ondersoek vir enige tekortkominge voordat jy iemand oordeel:” Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê:’ Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar ‘n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.”
Charles C Manz in The Leadership Wisdom of Jesus pp 11-13,1998,Berrett-Koehler Publ wys daarop dat Jesus se boodskap met hierde vergelyking is dat jy moet eers jou eie tekortkominge en probleme oorkom voordat jy iemand se gedrag probeer verander of as ‘n navolgbare model en bron van hulp vir ander dien en hulle in ‘n sekere rigting wil lei.
2. Wees nederig
Jesus het geweet dat baie mense, van sy dissipels ingesluit, graag belangrik in ander se oë wil voorkom. In Markus 9:33-35 leer Hy sy dissipels wat dit beteken om nederig te wees:” Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra:”Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?” Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: “As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laast en almal se dienaar wees.”
Jesus het voorgestel dat om werklik ‘n groot en belangrike leier te wees, moet jy eintlik die teenoorgestelde soek,jouself laaste plaas en almal se dienskneg wees.
Vir baie is dit ‘n vreemde gedagte omdat ‘n groot deel van ons lewe draai daarom om te presteer en uit te staan in ons werk, sport en studies. Dis moeilik om hierdie standpunt van Jesus ,naamlik dat ons daarna moet streef om laaste te kom en nie eerste nie,te versaan want op verskeie plekke in die Bybel word genoem dat ons ons talente vrugbaar moet aanwend. Dit is egter nie werklik ‘n teenstrydigheid nie, want ‘n mens kan jou talente en vermoëns voluit gebruik sonder dat jou prestasies jou meerderwaardig laat voel. Jesus wil ons laat verstaan dat nederigheid, diens en vergifnis kan lei tot respek en liefde van ander – en dit is ‘n teken van ware grootheid.
Die dissipels wat geworstel het met gevoelens van belangrikheid en grootheid, wou weet wie van hulle eendag die belangrikste in God se koninkryk sal wees (Mat. 18: 1-4). Om hulle te antwoord roep Jesus ‘n kindjie nader en sê: “Dit verseker Ek julle: As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie. Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. “
In plaas van om gedurig belangrikheid en grootsheid na te jaag, leer Jesus ons dat jy bloot moet aangaan om jou werk na die beste van jou vermoë te doen en eerder op die bydraes en prestasies van ander fokus as op jouself. Die erkenning wat jy verdien ,sal jy dikwels ontvang al soek jy nie doelbewus daarna nie.
Wat Nathaniel Hawthorne ,aangehaal deur Manz, (p.25) van vreugde gesê het, kan net sowel van grootsheid gesê word:”Vreugde is soos ‘n skoenlapper wat, wanneer dit gejaag word, altyd buite ons bereik bly, maar wanneer jy sou stilsit, mag dit op jou kom sit”(my vertaling).
3. Moet julle nie bekommer nie.
Johan Smit beskryf in “Jesus aan die Woord. Die Bergrede- Die preek wat mense nuut maak. CUM,209,pp.270-283 wat Jesus se verklaring is waarom mens jou nie moet bekommer nie (Mat. 6: 25-30). Die kerngedagte is dat ons God volkome moet vertrou en ons nie moet bekommer oor mense of dinge wat ons lewensvreugde en vrede kan bedreig nie. Leiers wat baie tyd of energie spandeer aan bekommernisse oor mislukkings van die verlede of oor onsekerhede van die toekoms verbeur talle geleenthede om suksesvolle leiers te wees.
Om van bekommernis ontslae te raak moet ons eerstens erken dat ons ons bekommer en waaroor ons bekommer en ook moet ons die nutteloosheid van bekommernis insien. Talle studies het dit bevestig dat stres wat veroorsaak word deur bekommernis, kan lei tot ‘n groot verskeidenheid van siektes soos kanker, hartsiektes en talle meer. Bekommernis lei ook dikwels tot dreinering van fisiese kragte, sielkundige versteurings en skade aan interpersoonlike verhoudinge. Bekommernis kan jou lewe verkort maar dit nie verleng nie.