Ek kan nie meer nie - ek wil uit! Egskeiding lyk na die beste opsie!
deur Alet Gardner
“Ek sien nie langer kans vir hierdie huwelik nie! Egskeiding lyk vir my baie meer aanvaarbaar as om langer saam met hierdie man te lewe. Om die waarheid te sê wens ek hy was dood!” Dis die woorde van ’n mamma van jong kindertjies wat sóveel drome vir haar huwelik gehad het.
Egskeiding is vandag so algemeen dat dit selfs vir Christene een van die eerste opsies is wanneer hul huwelik stagneer of in ’n krisis beland. Die vraag is egter: wat gemaak met ’n verhouding wat so stukkend is dat dit lyk asof praat dit nie kan regmaak nie?
Bertus moes op ’n dag by Cecile hoor: “Ek het genoeg gehad. Ek voel niks meer vir jou nie — ek wil uit!” Bertus het egter gekies om te veg vir sy vrou se liefde met die wapens van vergifnis en onvoorwaardelike liefde. Ten spyte van die feit dat sy gereeld laatnag rinkink het met werksvriende en later uitgetrek en in ’n woonstel gaan bly het, het hy sy eie hart ondersoek, sy eie foute geïdentifiseer en begin om haar van voor af die hof te maak — sonder om op enige regte aanspraak te maak. Vandag is hulle ’n gesinnetjie van vyf!
Paul en Erica se probleem was skynbaar minder erg — hulle het gedurig gestry oor wie is reg. Die E-woord het tog naderhand sy kop uitgesteek en die slim, bekwame, hardkoppige Erica het na antwoorde begin soek want sy het besef daar moet ’n beter uitweg wees. Na berading en huwelikskursusse kan sy vandag getuig: “… 28 in plaas van net 8 (jaar)! SO dankie! Het net gisteraand vir (ons kinders) ons storie vertel, (hulle) was gelukkig te klein om die sleg te onthou. Loof die Here vir Sy goedheid en genade en dat ons geseën is met ’n wonderlike huwelik en great kinders.” Hulle het geleer om die een die ander hoër as hulself te ag soos wat Paulus in Filippense 2:3-4 leer.
Willemien se probleem was heelwat ernstiger: haar asem het letterlik weggeslaan toe Christo die dag vir haar kom vertel dat ’n ander vrou sy kind verwag. Hulle eie gesinnetjie se geluk, se bestáán, was nou in gedrang. Berading en huwelikskursusse kon dinge nie verander nie. Wat wél ’n verskil begin maak het, is dat sy besluit het om hom (en die ander vrou) te vergewe, dat hy homself moes vergewe, en dat hulle moes werk aan die tekortkominge in hulle huwelik wat vir Christo weerloos gelaat het teen die versoekings waarmee die wêreld (en die Satan wat soos ’n brullende leeu rondloop, maar slinks genoeg is om met halwe waarhede en leuens ’n sluier oor ons verstand te trek) ons toegooi.
Egskeiding affekteer meer mense as net die egpaar. Onskuldige kinders, ouers, familie, vriende se bekende wêreld, hulle stabiele verwysingsraamwerk, word geskud, beskadig en vernietig. Almal moet verwond verder die lewe in stap.
Ons verleentheid kan God se geleentheid wees om groei te bewerkstellig en wonderwerke te doen in ons eie en ander se lewens. Maar dan moet ons bereid wees om ook ons pyn en krisisse op Sy manier te hanteer, terwyl ons soos Jabes in 1 Kronieke 4:10 bid:
“Oh, that You would bless me indeed, and enlarge my territory, that Your hand would be with me, and that You would keep me from evil, that I may not cause pain!” (NKJV)
—————
’n Paar plekke waar jy kan hulp kry:
http://www.huweliksfokus.co.za/
www.lewensverryking.co.za
www.familylife.org.za