Herhaal weer jou goeie wense vir 2014
Deur Stephan Joubert
Al daardie voorspoedige nuwejaarswense is agter ons. So ook die geseënde kerksfees woorde. Ons het dit ruim uitgedeel. Vriende, famileie en vreemdelinge het dit aangehoor. Van goeie wense gepraat- wie het jou al ooit ’n week nadat hulle jou ‘n geseënde kersfees toegewens het gevra of dit toe gebeur het, en of jy toe die Christuskind ontdek het in die Kersfeestyd? Het mense wat goeie wense oor jou vir 2014 uitgespreek dalk al laat weet daardie wense was nie maar net ’n algemene SMS of Facebook boodskap nie. Hulle bid daarom steeds dat daardie seënwoorde oor jou sal waar word.
Wanneer ouers vir hulle kinders wat vertrek sê: “ry veilig,” dan bel hulle later, of stuur selfs ‘n SMS, om te hoor of die kinders toe wel veilig gery het. Bedoelende, hulle volg hulle goeie wense op met die regte dade. Omtrent niemand doen dit egter wanneer hulle mekaar lewensveranderende dinge toewens soos: “mag al jou drome in die nuwejaar waar word” nie.
Nee, ek sê nie ons almal is skeinheilig as hulle mekaar goeie dinge toewens sonder om dit op te volg nie. Wat ek wel sê, is dat ons as navolgers van die Here dit ernstig genoeg moet bedoel deur dit hier en daar op te volg. Ons wense moet gebede word. Dink net hoe jy die wind uit mense se seile sal haal as jy ‘n SMS stuur om te hoor of die persoonlik wense wat jy oor hulle afgebid het besig is om te gebeur. Of wanneer jy daardie einste wens herhaal en vir hulle sê dat jy hulle steeds aan die Here in gebed opdra om dit te bewaarheid. Dan is jou fokus op veel meer as net goeie wense. Dan gaan dit oor die waar-word daarvan in Jesus se Naam. Wat ’n goeie roete vir 2014!