Selfbeheersing
deur Elmarie van der Westhuizen
Galasiers 5:22,23 “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”
Selfbeheersing raak byna elke aspek van mens se lewe aan; of dit is om gesond of minder te eet, gereeld oefening te doen, uit die bed te klim as die wekker lui, of minder geld te spandeer, of om ons gedagtes en emosies te beheer.
Die praktiese implikasies van ’n gebrek aan selfbeheersing is enorm. Die meeste van die probleme wat die moderne samelewing mee sukkel — verslawing, misdaad, gesinsgeweld, seksueel oordraagbare siektes, skuld, ongewenste swangerskap, onderprestasie op skool en werk, die gebrek aan spaar, versuim om te oefen — het ’n gebrek aan selfbeheersing as basis.
Meeste Christene sal saamstem dat om selfbeheersd te lewe nie altyd maklik is nie. Ons almal het al ons humeur verloor of op ons kinders geskreeu aan die einde van die dag. Die apostel Paulus bespreek sy eie innerlike konflik en sy stryd met die sonde in sy brief aan die Romeine: “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon” (Romeine 7:15-20).
Selfbeheersing word in Galasiers 5 as ’n vrug van die Heilige Gees genoem en is duidelik ’n onmisbare kenmerk van die Christelike lewe. Hierdie vrugte waarvan Galasiers praat kry ons egter slegs as ons lewe deur die Gees beheer word en is nie iets wat ons uit onsself kan verkry nie. Dit is slegs die inwonende teenwoordigheid van die Heilige Gees wat ons die krag en die vermoë gee om selfbeheersing uit te oefen. Soos Paulus sê, “God gee ons nie ’n Gees van vreesagtigheid nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timoteus 1:07). Selfbeheersing is die werk van die Heilige Gees, nie die werk van mense nie.
Om Geesbeheerd te kan lewe, is dit nodig dat ek daagliks tyd in Sy Woord/in Bybelstudie spandeer en in Sy liefdevolle teenwoordigheid die Heilige Gees nooi om beheer van my lewe te neem.
Christelike selfbeheersing is dus om die Gees toe te laat om elke oomblik van die dag aan die stuur van ons harte en lewens te wees. Onthou dat verandering uiteindelik nie plaasvind as gevolg van sterk wilskrag nie, maar deurdat ek elke keer wat ek agterkom dat ek nie selfbeheersd opgetree het nie, dit voor die Here as sonde bely en Hom vra om opnuut beheer van my gedagtes, woorde en dade te neem. So word selfbeheersing naderhand tweede natuur.
“God has equipped you to handle difficult things. In fact, He has already planted the seeds of discipline and self-control inside you. You just have to water those seeds with His Word to make them grow!” — Joyce Meyer