Net nie nog leë woorde nie asseblief!
deur Skillie Jacques Botha
Dis vreeslik maklik om ’n swaar hart te kies eerder as ’n ligte hart wat liefde en vrede aanpor. Vergifnis is iets wat maklik oor die lippe rol, maar soms sukkel die voete om saam met die lippe vorentoe te rol en te vergeet van die swaar hart.
Nelson Rolihlahla Mandela (wat in Desember 2013 gesterf het) was ’n mens wat iets rondom ware vergifnis gesnap het. Hy het alle rede gehad om woedend uit die tronk te kom en skade te maak — maar hy het gekies om sy swaar hart agter te los en met ’n hart vol vrede en liefde uit te stap.
Ek faal nog gereeld om die liefdeshart te kies bo die swaar hart, maar Madiba se lewe was ’n inspirasie wat ’n mens kan motiveer. Hy het die tipe vrede, liefde en vergifnis waarvan Jesus in die Bybel praat verstaan en uitgeleef — iets wat ons as volgelinge van Jesus baie selde regkry, al is dit veronderstel om deel te wees van ons alledaagse lewe.
Dis altyd maklik om te sê ons moet vrede maak, maar om dit actually te doen vat baie ‘guts’. Mandela se lewe en sy dood was opnuut net weer ’n reminder vir my dat enige mens daarteen kan kies om ’n hart van klip te hê. Ons moet die Heilige Gees toelaat om ons harte aan te raak en te verander. Keer op keer beloof die Here in Sy Woord vir ons dat Hy ons harte en denke sal verander as ons net op Hom vertrou!
“Therefore, if anyone is in Christ, he is a new creation. The old has passed away; behold, the new has come.” — 2 Kor 5:17
“And I will give them one heart, and a new spirit I will put within them. I will remove the heart of stone from their flesh and give them a heart of flesh...” — Esegiël 11:19
Een van die mooiste goed wat Nelson gedeel het uit sy wysheid vat dit mooi saam:
“All men, even the most seemingly cold-blooded, have a core of decency. If their hearts are touched, they’re capable of changing.”
Dink aan jou grootste ‘vyand’ hier op aarde en probeer dit in jou hart vind om hulle te vergewe soos wat Jesus ons vergewe het. Die radikale ding van vergifnis en genade is juis die feit dat ’n mens iets ontvang wat jy hoegenaamd nie verdien het nie.
Met vergifnis kan ’n mens ver kom in die lewe, maar as ons nie daarvoor gaan kies nie, dan is dit maar net nog leë woorde.