top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Om jou kersgeskenk weg te gee, is om dit te behou

deur Stephan Joubert

Jy het te veel geskenke vanjaar ontvang om dit alles self op te gebruik. Jesus se geskenk aan jou is so groot en so oorweldigend dat jy dit nooit sal kan opgebruik nie; nie hierdie jaar nie en ook nie gedurende die res van jou leeftyd hier op aarde nie. Daarom dat jy dit eenvoudig moet deel. Om Jesus se geskenk net vir jouself te hou, is om dit te verloor. Om dit te deel, is om dit te behou. Hy het nuwe lewe tot ’n ewigheid ver anderkant die dood met jou gedeel. Daar is te veel lewe in jou hart om op te leef. Dit is nie vir jou eksklusiewe gebruik alleen bedoel nie. Lees asseblief die instruksies. Jy moet al die skatte uitdeel wat die Here met jou deel. Jy moet die lewende water waarmee Hy jou dors les nooit laat opdam nie. Jy is ’n fontein en ’n kanaal van lewende water. Laat dit vloei. Gee dit weg.

Jesus se vrede is bedoel om te deel met ander. Kyk mooi, ’n ewige porsie lewende brood is in jou hand. O ja, gewone brood ook. Die Here sorg vir tyd en ewigheid. Jy moet dit verniet deel met ander wat in hierdie dae minder het om te eet en te drink as jyself. Daar is soveel hooplose mense rondom jou wat lankal opgegee het op die lewe. Hulle is uit op hulle voete. Om een ander mens se lewe met Jesus se lig te verlig, is om aan Kersfees die regte soort hande en voete te gee. Geseënde Kersfees!

bottom of page