God se kinders meld aan vir vredesdiens
deur Stephan Joubert
Toe ek op Twitter die foto sien van die soldaat wat die ou tannie by die Uniegebou se trappe afhelp, toe weet ek Madiba se dood het mense verenig soos lanklaas in Suid Afrika. Al het ons land wie weet hoeveel uitdagings, is die God van genade en vrede ook in ons midde aan die werk. As ek dit nie mis het nie, is vrede en die koms van sy koninkryk heel bo aan die hemelse agenda. Daarom dat Jesus ons geleer het: “Salig is die vredemakers!” Baie van sy kinders het die afgelope tyd gerapporteer vir vredesdiens. Orals het gelowiges in sy Naam gebid, gepraat en gewerk soos selde tevore.
Gelowiges wat in God se vredeskorps dien, is manne en vroue van gebed en aksie. Hulle bid en werk volhardend vir God se vrede op aarde. Hulle weet dat God die Verhoorder van gebed is, soos wat Hy Homself in Psalm 65:3 bekendstel. Oor die afgelope week het Hy wie weet hoeveel unieke bakens hiervan opgerig in Suid Afrika. Pleks van bloedvergieting, wat vele doemprofete voorspel het as Madiba sou sterf, het respek en gewydheid in die harte van derduisende posgevat. Pleks van verhoogde spanning en rassehaat het vele mense stil en ernstig geword. Aan God die dank dat sy lig altyd helder skyn en dat die donker dit nooit sal oorweldig nie.
God doen wat Hy wil. Hy is die Here. Ook gebruik Hy wie Hy wil. Net soos wat Hy eeue gelede leiers soos Kores, die Persiese koning, opgerig het om Sy volk te seën, kommandeer Hy steeds wêreldleiers en plaaslike leiers op om sy wil te doen. Deur sy Gees blaas Hy vure van haat dood en laat water van lewe in droë landstreke vloei. Christus se reddende genade oorstroom ook steeds die hemelse walle. Kom ons ons meld opnuut aan in sy vredesmag om kanale van sy lewende water te wees. In Johannes 7 belowe Jesus dit sal uit ons elkeen vloei in wie Sy Gees werk.