Stilbly praat ook
- Dec 12, 2013
- 1 min read
deur Stephan Joubert
Stilbly is ook ’n antwoord. So lui ’n ou spreuk. Inderdaad, stilte praat soms kliphard! Dit is nie jou werk om ’n wandelende “Google” te wees wat altyd binne milli-sekondes ’n opinie oor enigiets of enigiemand in plek het nie. Leer by Spreuke dat dit wys is om soms net stil te bly. Kies jou woorde altyd met oorleg. Hoe? Wel, weet minstens dat dit dwaas is om te praat as jou humeur begin opvlam. Dan gaan jy die “beste” toespraak ooit afsteek wat jy na die tyd wens jy nooit moes gesê het nie. Bly stil as jy agterkom jy dink jy’s die enigste een wat reg is, of as jou woorde in skerp lemme verander wat ander rondom jou in repies sny.
Jy vorder op God se roete van geestelike groei as jy leer om minder te praat en meer te luister. Dit is die groeibodem vir nederigheid, soos wat die kerkvader Benediktus baie eeue gelede gesê het. Nederigheid voor God en tussen ander mense is te hoor in die regte en spaarsamige gebruik van jou tong. Stiller, sagte woorde wat gedoop is in God se genade praat altyd op die regte maniere die hardste!

Comments